Dagstukkies met CLF 19 Julie 2020

Julie 19, 2020

Oppas vir die onkruid

“Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug” (Matteus 13:22)

Die derde deel van hierdie gelykenis gaan oor die saad wat tussen die onkruid geval het. Die saad het wel opgekom, maar die onkruid het dit doodgegroei.

Jesus verduidelik dit só aan sy dissipels. Baie mense hoor die Woord van God, maar omdat hulle soveel bekommernisse het, vergeet hulle van die Here. Vir sommige is hulle rykdom byvoorbeeld vir hulle so belangrik dat hulle dink dat hulle God nie nodig het nie.

Ons weet dat ons al ons bekommernisse vir die Here kan gee, Hy sal dit vir ons oplos. Ons hoef ook nie rykdom na te jaag nie. God weet wat ons nodig het en sal vir ons sorg. Al wat ek en jy moet doen is om te glo dat Jesus ons Verlosser is, dan kan die saad wat in harte gesaai is goeie vrugte dra.

 

Help my, Here, om ook die saad in ander se lewens te saai. Ek weet U sal self die saad laat groei. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.