Dagstukkies met CLF 18 Julie 2020
Julie 18, 2020
Vasbyt
“Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie” (Matteus 13:21)
In hierdie teks verduidelik Jesus vir ons dat dit by party mense is soos die saad wat op klipbanke geval het. Saad wat op klipbanke val, ontkiem gou, maar dit groei nie baie lank nie omdat die grond vlak is en die wortels nie goed kan ontwikkel nie. As die son dan warm skyn, verdroog die plante gou en gaan dood.
Dit is soos mense wat God se Woord hoor, en dit aanneem, maar gou weer vergeet as dinge bietjie moeilik begin gaan. Hulle gee gou moed op en vertrou nie op God nie. Ons het al voorheen geleer dat God getrou is, en dat Hy altyd vir ons sal help en moed gee.
Onthou maar net elke dag, ook as dit moeilik gaan, dat God naby is. Hou vas aan die Woord. Ons moet aanhou en vasbyt, want eendag sal ons die oorwinning behaal.
Here, U wat met ons praat, dankie dat ek al u Woord kon hoor. Help my om aan te hou tot die end toe ter wille van U. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.