Dagstukkies met CLF 18 Augustus 2020
Augustus 18, 2020
Wees soos sout
“Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe” (Markus 9:50)
Ons almal weet wat sout is. Ons gooi dit oor ons kos sodat dit lekkerder kan smaak. Kos sonder sout smaak laf en is nie lekker nie. Ook gebruik ons sout om kos vir ’n tyd te bewaar. Voordat daar elektrisiteit of vrieskaste was, het die mense vleis of vis in sout gesit en dan kon dit weke lank goed bly.
In die Bybel se tyd is sout baie gebruik en was baie kosbaar. Jesus sê vir sy dissipels dat hulle soos sout moet wees. As ons dink aan die goeie eienskappe van sout, is dit duidelik dat dit ’n sterk oproep tot ons is. Ons sal so vir die wêreld moet wys dat ons kinders van God is.
Kom ek en jy probeer ook om vir die mense te wys dat ons soos sout is wat waardevol vir die hele mensdom is.
Here, help my om soos sout te wees en om vir ander mense die lewe beter te maak. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.