Dagstukkies Met CLF 17 Februarie 2020

Februarie 17, 2020

Die Here help

“Hulp kom net van die Here af”

(Psalm 3:9)

Hierdie Psalm word ook ’n Psalm van Dawid genoem. Hy het van sy seun Absalom gevlug. Absalom wou in Dawid se plek koning word, en hy wou sy pa doodmaak. Dawid het geweet dat dit net God is wat hom kan help en beskerm. Hy sê in hierdie Psalm dat as hy na God roep, antwoord God hom. Ook as hy gaan lê, slaap hy goed, want die Here beskerm hom.

So baie keer in ons lewens voel ons bang en onveilig. Party mense voel selfs nie in hulle eie huise veilig nie. Rondom ons is daar so baie misdaad en geweld. Dit maak ons bang. Wanneer ons so benoud voel, kan ons maar net Dawid se voorbeeld volg. Roep na God om hulp; Hy sal ons help en veilig hou. God is getrou en sal sy kinders beskerm.

Here, dankie dat U my hoor as ek na U roep. Beskerm my asseblief as ek onveilig voel. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.