Dagstukkies met CLF 17 Augustus 2020

Augustus 17, 2020

Alles wat Hy doen is goed

“Hulle is geweldig aangegryp en het gesê: “Alles wat Hy doen is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat” (Markus 7:37)

Jesus was op ’n dag weer besig om te preek en die mense te leer. Hulle bring toe ’n man na Jesus wat doof was en ook nie kon praat nie. Die mense wou hê dat Jesus hom gesond moes maak. Jesus het hom eenkant toe geneem, sy vingers in sy ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer. Dadelik kon hy hoor en het reg gepraat. Almal was baie verbaas en het gesê dat alles wat Jesus doen goed is.

Ons kan vandag nog dieselfde van die Here sê. Kyk so bietjie rondom jou en jy sal al die goeie dinge sien wat God doen. In die natuur en in ons eie lewe sien ons dat alles wat God doen baie goed is.

Die Here weet wat goed is vir ons. Hy sorg vir die hele wêreld. Glo dat alles wat met jou gebeur die beste is wat God vir jou wil hê.

 

Dankie Here dat ek kan weet dat alles wat U vir my doen, die beste is. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.