Dagstukkies met CLF 17 April 2020

April 17, 2020

Bely jou sonde

“Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang” (Spreuke 28:13)

Ons het gister oor eerlikheid gepraat. Soos ons teksvers vandag sê, moet ons eerlik teen­oor God wees en Hom van ons sonde vertel. As ons berou het oor wat ons gedoen het, sal God ons vergewe en help om dit nie weer te doen nie.

Om sonde of verkeerde dinge weg te steek, sal ons niks baat nie. Wanneer ons sonde probeer wegsteek en dit nie voor God bely nie, sal dit ons pla en sal ons nie vry en gelukkige mense kan wees nie.

Almal van ons is maar sondige mense, maar God verstaan dit, en as ons in nederigheid voor Hom staan en jammer sê, sal Hy vergewe. God se genade is groot en Hyself sal ons nuwe mense maak.

 

Liewe Heer, help my asseblief om my sonde by U te kom bely. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.