Dagstukkies met CLF 16 November 2020
November 16, 2020
Aan God die eer
“Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie” (Efesiërs 2:9)
Wanneer iemand hier op aarde hard gewerk het en groot hoogtes bereik het, kan so iemand baie trots wees. Nog te meer, as iemand in al sy optrede eerlik en opreg was, en afhanklik van die Here geleef het, dan was so iemand se lewe die moeite werd.
Nou skryf Paulus dat niemand op homself trots kan wees nie. Niemand verdien enigiets nie, alles kom van God. Dit is Hy wat vir ons die verstand, gesondheid en die talente gee sodat ons kan presteer. Niemand sal iets kan bereik nie, as dit nie vir die genade van God was nie.
So kan ons ook nie trots wees op ons Christenskap nie. As dit nie was dat God ons uitverkies en gered het nie, was ons verlore mense. Al wat ons kan doen, is om elke dag vir die Here dankie te sê. Om ons dankbaarheid aan God te bewys, moet ek en jy Hom gehoorsaam wees en sy wil doen.
Here, ek is ’n swak mens en kan nooit vir U genoeg dankie sê vir alles wat U vir my doen nie. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.