Dagstukkies met CLF 16 April 2020

April 16, 2020

Eerlikheid

“Iemand wat eerlik antwoord, is ’n ware vriend”

(Spreuke 24:26)

 

Om eerlik te wees, is ’n baie mooi eienskap. Mense wat eerlik en opreg teenoor mekaar optree, kom ver in die lewe. Mense het ook groot respek vir iemand wat altyd die waar­heid praat.

So baie kere doen ons die verkeerde dinge, en as ons uitgevang word, kom ons met allerhande stories wat nie waar is nie. Daardeur wil ons onsself verontskuldig. Soms kom ons los met ons onwaarhede, maar die Here sien en weet alles van ons af. Hier op aarde kan mense nog wegkom met leuens, maar eendag sal hulle voor God moet staan om te verduidelik.

Probeer om elke dag eerlik met almal te wees. As mense jou leer ken as ’n eerlike mens, sal jy goed voel en ’n voorbeeld vir ander wees. Dit is ’n getuienis vir ander dat jy ’n kind van God is.

God van Waarheid, vergewe my die kere wat ek oneerlik was. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.