Dagstukkies met CLF 15 Oktober 2020

Oktober 15, 2020

Die regering

“Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God”  (Romeine 13:1)

Alle lande in die wêreld het ’n regering. Die mense wat in die land woon, kies die rege­ring wat die land se wette moet maak en sorg dat alles goed verloop. Sonder ’n regering en wette sal ’n land ondergaan en alles sal verkeerd loop.

Ons lees hier dat dit God is wat dit so reël dat daar gesag en regerings moet wees. Daarom moet ons ons land se wette gehoorsaam en saamwerk, sodat almal gelukkige mense kan wees. Ons moet ook ons belasting betaal, sodat die regering geld kan hê om die land te bestuur.

Baie mense wil nie die land se groot en klein wette gehoorsaam nie. Dan maak hulle dit vir ons almal moeilik, maar hulleself kry ook probleme en hulle word gestraf. Ons moet die wette gehoorsaam, maar ons moet ook bid vir die regering, want hulle doen ook nie altyd die regte dinge nie. As ons vir hulle bid, sal God die oplossing gee.

 

Here, gee wysheid aan ons regering, en help ons om elke dag vir hulle te bid. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.