Dagstukkies met CLF 15 Maart 2020

Maart 15, 2020

God sorg ook vir diere

“Die voëls maak hulle neste langs die water en kwetter tussen die takke” (Psalm 104:12)

 

As jy kans het, lees die hele Psalm 104. Daarin lees ons hoe groot God is. God het die wonderlike heelal geskep, die sterre en planete, en niks op die mooi aarde – die berge, die see, die wolke, die bome en ook die diere wat hier op aarde is – het sonder Hom ontstaan nie. Hy sit agter alles. Hy het alles wonderlik gemaak. Hy hou alles elke dag aan die gang.

God het alles so goed gemaak dat daar vir alles hier op aarde ’n plekkie kan wees om te bestaan. In ons teksvers lees ons dat selfs die voëls vir hulle neste of blyplekke langs die riviere kan bou. Dit is God wat dit so laat gebeur. God sorg vir diere en mense.

Wanneer jy weer daar buite in die natuur stap, let op na al die diere en die mooi dinge wat van God af kom. Dit alles vertel hoe groot en goed God is.

God het ook die plante gemaak sodat ons hulle skoonheid kan geniet. Dink net aan die mooi bome en blomme. Hy het ook diere gemaak om vir ons as mense vreugde te bring. Dink net aan al die troeteldiere wat ons het, en watter genot hulle vir ons gee.

 

Grote Here, dankie vir diere hier op aarde. Help my om ook vir húlle te sorg. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.