Dagstukkies met CLF 15 Augustus 2020

Augustus 15, 2020

Praat oor Jesus

“En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele

omgewing oor Hom gepraat” (Markus 1:28)

Nadat Jesus begin het om die mense te leer en om siekes gesond te maak, het die mense begin om van Hom te praat. Omdat Jesus sulke wonderlike dinge gesê en gedoen het, het Hy gou bekend geraak. Mense het vir mekaar vertel wat Jesus alles gedoen het. Dan het hulle in groot groepe na Jesus gegaan om na Hom te luister.

Ons praat ook maklik oor mense wat bekend en beroemd is. Maar snaaks genoeg sukkel ons om elke dag met ons vriende of bure oor Jesus te praat. Dit moet egter nie so wees nie. Ons wat God se kinders is, moenie skaam wees om oor Hom te praat nie. God wil hê dat ons van Hom moet praat, en so sy Naam groot maak.

Probeer om elke dag met iemand oor Jesus te praat, en so sal dit vir jou al mak­lik­er word om vir God te getuig.

 

Here Jesus, gee vir my die moed om vandag vir iemand van U te vertel. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.