Dagstukkies Met CLF 14 Februarie 2020
Februarie 14, 2020
God sorg vir Sy kinders
“Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste”
(Job 42:12)
Job en sy drie vriende het in die tyd toe hy so swaargekry het, baie gepraat. Hulle het probeer verduidelik hoekom Job so swaarkry. Dis oor sy sonde, het hulle gesê. Hy verdien dit. God straf hom. Maar dit het Job nie aanvaar nie.
Partymaal verstaan ons nie hoekom dinge met ons gebeur nie. Ons verstaan nie hoekom God toelaat dat slegte dinge met ons gebeur nie. Dis nie altyd net oor God ons wil straf nie. Daarom was die raad van Job se vriende nie reg nie. Job was baie moedeloos oor die woorde van sy vriende en het gewens dat hy kon sterf.
Toe het die Here self met Job gepraat. Die Here het hom vertel dat Hy alles op aarde gemaak het, en dat daar niemand so almagtig is soos Hy nie. Job besef toe dat God tot alles in staat is, en dat niemand God kan teëgaan nie. Ons verstaan net nie altyd hoekom God dinge doen nie. Maar ons kan God vertrou. Deur dit alles het Job nie gesondig nie. God het hom gesond gemaak en die laaste deel van sy lewe het hy nog meer besittings gehad as voorheen. Soos Job aan God getrou gebly het, so sal God ook vir ons sorg, al gaan dit soms swaar met ons.
Vader in die Hemel, help my om altyd aan U getrou te bly. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.