Dagstukkies met CLF 14 April 2020
April 14, 2020
Drank
“Wyn maak jou ligsinnig, drank laat jou lawaai maak; niemand wat van dronkenskap slinger, is verstandig nie” (Spreuke 20:1)
Ons weet almal wat drankmisbruik aan mense doen. Mens raak verslaaf aan drank. So baie mense en selfs huisgesinne se lewens word verwoes deur te veel te drink.
Dit is so dat daar wingerdstokke en druiwe is om wyn van te kan maak. Selfs Jesus het ’n wonderwerk gedoen deur water in wyn te verander. Maar wyn of drank moet reg gebruik word. Daar is mense wat liewer glad niks alkohol moet drink nie. Dit is egter nie verkeerd om ’n bietjie wyn te drink nie, dit moet net nie misbruik word nie.
Te veel mense vergryp hulle aan drank as hulle probleme het. Nog nooit is iemand se probleme opgelos deur drank nie. Dit word net al hoe erger.
Ons teksvers sê: iemand wat te veel drink, is nie ’n verstandige mens nie. Kom ons help mense wat verslaaf is aan drank. Kom ons bid vir hulle.
Here Jesus, help my om ’n verstandige mens te wees, en dat ek my nie aan drank sal oorgee nie. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.