Dagstukkies met CLF 11 Oktober 2020
Oktober 11, 2020
Jy is uitverkies
“Net so is dit ook vandag: daar is ’n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is” (Romeine 11:5)
Ons lees op baie plekke in die Bybel dat God self sy kinders kies. Hy is so liefdevol dat Hy mense aanneem om sy kinders te wees. Niemand kan uit sy eie krag ’n kind van God word nie. Al is jy die rykste of slimste of mooiste mens, sonder God se genade sal jy nooit sy kind kan word nie.
Dit is nie so maklik om die uitverkiesing te verstaan nie. Ons sal nooit verstaan hoe God dinge doen nie. Laat dit jou gerusstel: reeds omdat jy nou hierdie stukkie lees, kan jy weet dat God jou uitverkies het. Jy sal nie in die Here se Woord belangstel as Hy jou nie deur genade uitverkies het nie. Wees elke dag dankbaar en prys die Here omdat Hy jou as sy kind aangeneem het.
Grote Here, ek kan nie vir U genoeg dankie sê omdat U vir my as sondige mens aangeneem het nie. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.