Dagstukkies met CLF 11 Augustus 2020
Augustus 11, 2020
Jesus word begrawe
“Laat die middag het daar ’n ryk man aangekom. Dit was Josef van Arimatea, wat self ook ’n volgeling van Jesus was” (Matteus 27:57)
’n Mens sou dink dat Jesus se dissipels self vir Jesus sou begrawe, maar ons lees dat daar gelukkig ’n ryk man met die naam van Josef gekom het om Hom te begrawe. Hy het Jesus se liggaam geneem en in skoon linne toegedraai. Toe het hy vir Jesus in ’n nuwe graf, wat uit rots gekap is, neergelê. Ook het hy ’n groot klip voor die ingang van die graf gerol. In daardie dae is dit hoe mense begrawe is.
Ons lees dat daardie Josef ’n volgeling van Jesus was, hoewel hy nie een van Jesus se binnekring-dissipels was nie. Dit sê vir ons dat hy ’n kind van die Here was. Hy was nie skaam om dit bekend te laat word nie. Soos daardie Josef ’n goeie daad vir Jesus gedoen het, moet ons ook sorg vir almal wat oor ons pad kom.
Here, maak my gewillig om ook my deel vir ander te doen. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.