Dagstukkies met CLF 11 April 2020
April 11, 2020
Geduld
“’n Geduldige mens is baie verstandig; een wat kort van draad is, stel sy dwaasheid ten toon.”
(Spreuke 14:29)
Geduld is een van die dinge wat baie van ons kortkom. Ons kan nie wag nie. En dikwels raak ons dan ongeduldig, met onsself en met ander mense. Agterna is ons spyt daaroor en voel ons sleg omdat ons nie langer na iemand geluister het, of meer simpatie met so ’n persoon gehad het nie.
Die Bybel vertel nou vir ons dat ’n mens wat geduldig is, baie verstandig is. As ons dink hoe geduldig die Here met ons is, kan ons nie anders as om met ander mense ook geduldig te wees nie. Die Here het baie geduld met ons. Ons sondig baie, maar dan vergewe Hy ons elke keer. Vir jare is God geduldig met ons, Hy sal aanhou werk met ons, totdat ons ons harte vir die Here gee.
Wanneer jy weer ongeduldig is met iemand, of dalk met jouself, dink net weer aan die geduld wat God met
ons het.
Geduldige Here, vergewe my as ek ongeduldig met mense is. Help my om meer vir mense om te gee. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.