Dagstukkies met CLF 10 Maart 2020
Maart 10, 2020
Bid vir ons land
“Die Here sal voorspoed skenk en ons land sal sy oes gee” (Psalm 85:13)
In hierdie Psalm word die Here geprys omdat Hy goed was vir die mense van Israel. Hy het vir hulle ’n land gegee om in te woon. Hy het hulle sonde vergewe. God het weer vir hulle ’n toekoms gegee. Hyself was by hulle.
Maar die Psalm is ook ’n gebed: die Here moet hulle tog help om gehoorsaam te lewe. Hy moet hulle help om Hom alleen te vertrou en Hom alleen te dien. Want dan sal Hy aanhou sorg, Hy sal vrede en geregtigheid gee, Hy sal voorspoed en genoeg kos gee.
Ons werk is om genoeg kos te help maak vir al die mense van ons land. Soms kom daar droogte of oorstroming of rampe. Dan is daar nie genoeg kos nie. Daarom moet ons nie net hard werk nie, ons moet ook op die Here vertrou. Wanneer ons goeie oeste maak, is dit net genade van God. Hy gee alles en sorg vir ons.
Wanneer ons na ’n dag se werk tot God bid, moet ons die Here vra dat Hy ons land sal seën, sodat almal iets sal hê om te eet. En dat daar vrede sal wees.
Here, gee dat die natuur daar buite vir ons goed mag wees, en dat ons dankbaar sal wees vir kos om te eet. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.