Dagstukkies met CLF 1 Oktober 2020
Oktober 1, 2020
Die Here stap saam
“Een nag het die Here in ’n gesig vir Paulus gesê: ‘Moenie bang wees nie, hou aan met preek en moenie stilbly nie, want Ek is by jou’ ” (Handelinge 18:9)
Omdat daar in Paulus se tyd nog so min mense van Jesus gehoor het, het hy baie dorpe en streke besoek. Die Bybel vertel van Paulus se sendingreise. Paulus was so ywerig dat hy enigiets verduur het net om God se boodskap te verkondig. Hy is in die tronk gegooi, geslaan en verneder, maar nogtans het hy aangehou met preek. Die Here self het hom moed ingepraat soos ons teksvers sê.
Soos Paulus die Woord van God versprei het, so moet ek en jy ook nie bang wees om vir God te werk nie. As ons die behoefte het om ander van Jesus te vertel, kan ons op die Here vertrou, want Hy is altyd by ons. Ons het dikwels die geleentheid om te getuig, dan moet ons nie bang wees nie, deur sy Heilige gees is Hy naby ons, binne-in ons.
Vader in die Hemel, gee vir my die vrymoedigheid om vir U te getuig en te werk. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.