Dagstukkies met CLF 1 Junie 2020
Junie 1, 2020
Wees bly
“Toe vra die Here vir hom: ‘Het jy rede om kwaad te word?’ ”
(Jona 4:4)
Nadat die vis vir Jona op die land uitgespoeg het, het die Here ’n tweede keer vir hom beveel om na Nineve toe te gaan. Hierdie keer was hy gehoorsaam en het die mense van Nineve gewaarsku dat God ’n ramp oor hulle sal bring. Toe die mense sy boodskap hoor, het hulle hul bekeer en weer God se wil gedoen.
Die Here het toe besluit om die stad te spaar sodat die mense nie deur die ramp getref is nie. Hieroor was Jona baie kwaad. Hy was eintlik jaloers dat God die mense genadig was.
Jona behoort dankbaar te gewees het omdat daar so baie mense was wat gered is vir God se koninkryk. Wanneer ons sien dat mense omdraai en na God toe teruggaan, moet ons bly en dankbaar wees.
Help en ondersteun jou vriende of familie wat terugdraai na God toe. Wees altyd bly oor God se
groot genade.
Genadige Here, dankie dat U genade ook vir my, as sondaar, so groot is. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.