Dagstukkies met Anton 23 Augustus 2019
Augustus 23, 2019
Psalm 112: 5-6: #Eerlikheid
“Dit is ‘n goeie mens wat hom ontferm en wat uitleen en in al sy sake reg optree. Die regverdige sal nooit wankel nie, hy sal altyd onthou word.”
Die “glory grabber”: Ek dink die korrekte Afrikaans vir dié term is, “gloriegryper”. Dit is wanneer iemand graag erkenning vir hom of haarself eien asof hy of sy die reg het om so te doen. So ‘n persoon sal breëbors rondloop asof hý (of sy) die enigste held in ‘n verhaal is. Asof dit nét deur sy of haar toedoen is dat alles wat goed is in die wêreld as gevolg van hulle gebeur en dat daar (klaarblyklik) nie sonder hulle klaargekom kan word nie.
Die ontmoeting: ‘n Paar jaar gelede word ek na ‘n vergadering genooi waar verskillende nie-winsgewende organisasies (of NGO’s soos hulle bekendstaan) verteenwoordig was. Die byeenkoms was ‘n geleentheid vir netwerk in die hoop dat hulle op verskeie vlakke kan hande vat om sodoende ‘n groter impak in die gemeenskap te kan hê. Elkeen van ons het ‘n beurt gekry om te vertel wat ons doen en om so bietjie daaroor uit te brei. Dit was interessant om hierna te luister. Elkeen het ‘n storie gedeel en ook vertel hoeveel mense se lewens al deur die Here verander is in die plek waar elkeen van hulle dien. Dit was mooi.
Toe gebeur dit: Meneer “Me, myself and I” kry ‘n beurt om te praat. Dit was (vir mý in elk geval) so ‘n groot verleentheid om na hom te luister. Die oomblik toe hy sy mond oopmaak kon hy nie ophou om sy eie lof te besing nie. Hy het vir omtrent 10 of 15 min aangerammel oor hoe wonderlik hý is en watter goeie werk hý doen asof hy al een in die vertrek was. Hy het herhaaldelik genoem dat hy die énigste een was wat (oënskynlik) hierdie spesifieke bediening onder jong mense gehad het waar hy hulle (jongmense) help om van verslawing vry te kom en ook hoe hy gereeld (selfs in die middel van die nag) gebel word om te kom help waar daar een of ander geval was. Volgens hom swoeg en sweet hy daagliks alleen, sonder die hulp van ander en het mense van oral oor glo vreeslik baie respek vir hom. Dis hartseer, sy woorde was vir my hol en leeg en ek het opgemerk hoe baie van die mense daar eenvoudig grond toe gekyk het.
Hoogmoed kom tot ‘n val: ‘n Volgende persoon het voorentoe beweeg. Dit was ‘n jong man. Hy het begin praat, eers oor sy eie verlede en die feit dat hy ‘n gereabiliteerde dwelmverslaafde was. Hy het gedeel hoe kragtig die Here hom gered het en hom van verslawing kom verlos het. Sy getuienis is nederig oorgedra. Hy het vertel hoe hy hierdie boodskap van Christus se verlossingskrag met ander verslaafdes deel. Hy het genoem dat hy en die ander mense wat saam met hom werk gereeld deur polisiestasies en gevangenisse gebel word om (veral) jongmense te help, by te staan en te bedien. Nie vir een oomblik het hy homself opgehemel nie. Toe, net vir ‘n oomblik het hy reguit na meneer “Me, myself and I” gekyk en vir hom gesê hoe vreemd dit was dat hulle mekaar nog nooit raakgeloop het nie! As die werk wat hy doen dan werklik so onmisbaar was moes hulle paaie sekerlik tog op een of ander stadium al gekruis het. Meneer “Me, myself and I” het net sy skouers opgetrek en nie geantwoord nie.
Hieruit moet ons leer: Wanneer jy goeie dinge vir die Here doen, moet dan nie op ‘n verhoog gaan staan en vir almal vertel hoe wonderlik jý is nie. Kies liewer om reg op te tree en die eer en heerlikheid aan die Here te gee. Die Een aan wie dit werklik toekom.
Sterkte!