Dagstukkies met Anton 22 Augustus 2019
Augustus 22, 2019
Kolossense 3:9: #Eerlikheid
“Moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mense en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens. Wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.”
Soms lieg ons vir onsself. Ek was telkens in sulke situasies waar ek só graag iets wou hê dat ek myself oortuig dit is van die Here af, maar eintlik was ek net eenvoudig oneerlik daaroor. Dit gebeur so maklik. Jy wil glo wat jý wil glo en basta met die res. Jy kies om net te sien wat jy wíl sien en kyk dan die waarskuwingstekens gerieflik mis. Dit kan enigiets wees: ‘n nuwe verhouding, ‘n nuwe werk of dalk een of ander transaksie wat jy wíl beklink. Maar, hier is die probleem. Ons (gelowiges) oortuig onsself baie keer dat ons die Here hééltemal vertrou en dat ons hom heel eerste geken het in ‘n saak voor ons die besluit geneem het. Die teenoorgestelde is eintlik baie keer meer die geval. Jy het die Here nooit geken in die saak nie, jy het hom eintlik net daaroor ingelig en daar is ‘n gróót verskil tussen die twee.
Die eie ek.
Wanneer ons bid verklaar ons graag aan God dat dit nie mý wil is waaraan Hy gehoor moet gee nie, maar Sy eie. Ons doen dit want ons is (veronderstel) om te verstaan en te aanvaar dat Hy régtig van beter weet en as Hy sou kies om nee te sê dan is daar verseker ‘n baie goeie rede. Die ding is, ons wil nie “nee” vir ‘n antwoord hê nie. Ons trek dan die wol oor ons eie oë en doen dinge asof dit die Here is wat dit so bestem het en is dan boonop verbaas en geskok as goed nie uitwerk soos óns wou hê dit moes nie. Moenie iets probeer wegsteek nie. Wees liewer van die begin af eerlik en opreg met die Here én met jouself. Moenie vir jouself lieg net om te kry wat jý graag wil hê nie.
Wanneer jy bid oor iets en jy maak jou behoefte of begeerte aan die Here bekend bedoel dit dan werklik wanneer jy sê, “Here, nie my wil nie, maar U wil geskied” en aanvaar dat Hy soms gaan nee sê.
Sterkte!