Dagstukkies met Anton 21 Augustus 2019

Augustus 21, 2019

21 AUGUSTUS 2019

2 Timoteus 2:15:  #Eerlikheid

“Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ‘n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ‘n arbeider wat Hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die Woord van die waarheid suiwer verkondig.”

Die waarheid maak jou vry… Of doen dit?  Dit is ‘n skrifgedeelte wat baie mense graag gebruik, maar om een of ander rede laat hulle gereeld die drie belangrikste woorde daarvan uit.  Ek besef hulle doen dit nie met voorbedagde rede of vir ‘n duister rede nie.  Dit is maar net hoe mens soms praat, maar dit bly steeds nie 100% korrek nie.  Jy sien, dit is nie bloot net wáárheid wat jou vry maak nie, dit is die kennis van die waarheid wat dit doen, om (intiem) met die waarheid om te gaan.  Met ander woorde, as jy nie sélf (in jou hart) van die waarheid oortuig raak nie kan mense dit met jou deel maar dit sal jou glad nie beweeg nie. ‘n Duisend mense kan elke dag vir jou vertel dat die Here Jesus vir jou sondes aan die kruis gesterf het en dat Hy die prys daarvoor namens jou betaal het, maar as jy dit (die waarheid) nie wíl glo nie, kan dit jou ongelukkig ook nie vry maak nie.

Die verskil tussen hoor en luister.  Ek noem gereeld aan my kinders dat hulle moet sorg dat hulle huiswerk klaar is voor die naweek aanbreek anders gaan hulle spyt wees.  Hulle hoor my, maar hulle luister nie.  Hulle neem nie kennis van wat ek sê nie en wanneer die naweek aanbreek is hulle dikbek omdat hulle op ‘n Saterdag moet huiswerk doen terwyl hulle maats kan kuier en speel.  As hulle waarlik geluister het na die die waarheid wat ek met hulle deel en hulle bereid was om hulself beskikbaar te stel sou hulle dadelik tot aksie oorgegaan. So sou hul die gevolge kon vermy.

Om waarheid ter harte te neem.  Wanneer ons dít doen en ons is gewillig kan ons nie anders as om aan die werk te spring en stelmatig te begin verander nie.  Ons is so oortuig van wie en wat God is dat ons beter mense wil word en ook die wêreld ‘n beter plek wil maak tot Sy eer en verheerliking.  Dit neem miskien tyd, maar soos die jare verby gaan word elkeen van ons al meer vaardig in die werk wat die Here ons gegee het om te doen omdat die Heilige Gees ons toerus.

Sterkte!