Dagstukkies met Anton 19 April 2019

April 19, 2019

Johannes 11:25-26:  #Opstanding

19 APRIL 2019

“Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;

26 en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?”

In Johannes 11 lees ons die verhaal waar Jesus vir Lasarus uit die dood opwek.  Terwyl Lasarus nog siek was is ‘n boodskap na Jesus gestuur om asseblief so gou moontlik te kom help.  Die mense het geweet Jesus kon wonders doen en het sekerlik gehoop Hy sou Hom na sy vriend se siekbed haas en ook daar en dan genees. Jesus was glad nie haastig nie.  Inteendeel, ons lees in die Bybel Hy het vir nog twee dae gebly waar Hy was voor Hy uiteindelik aan Sy dissipels gesê het hulle gaan terug na Judea waar Lasarus was.  Met Sy  aankoms was Lasarus al vier dae dood en ook reeds in sy graf.  Vir mense was die situasie hopeloos. Niks kan tog daaraan gedoen word nie.  Lasarus is dood en Jesus was te laat om dit te keer, maar, dan gebeur iets asemrowend.  Jesus sê hulle moet die klip voor die graf wegrol.  Hy roep met ‘n harde stem vir Lasarus om uit te kom en dis presies wat gebeur.  Net daar, ten aanskoue van al die mense kom Lasarus uit die graf te voorskyn en word uiteindelik met sy familie herenig.

Hierdie verhaal raak elkeen van ons. Ons roep na die Here.  Ons bid en vra Hom om in een of ander situasie te kom help voor dit dalk te laat is, maar dit is juis die ding.  By God bestaan daar nie iets soos “te laat” nie.  Tyd maak nie vir Hom saak nie en Hy word ook nie daardeur gebind óf beperk nie.  Ek en jy moet net aanvaar dit wat wél in ons lewens of situasies gebeur ís binne Sy wil selfs al sou dit nie vir ons so lyk nie en selfs al kan ons dit nie verstaan nie.  God belowe dat alles (enigiets) sal ten goede uitwerk vir dié wie Hom liefhet.  Met ander woorde  alles (enigiets) sal tot jou voordeel wees as jy Hom met jou hele hart vertrou. Staan op en staan sterk in die vertroue dat God jou nie ignoreer nie en het jou nie vergeet nie.  Hy is net besig om alles vir jou ten goede te laat meewerk omdat jy Hom vertrou.

Sterkte!