Dagstukkies met Anton 18 April 2019

April 18, 2019

Psalm 71:20:  #Opstanding

18 APRIL 2019

“U wat my groot en moeilike probleme gewys het, U sal my weer opwek en my laat opkom uit die dieptes van die aarde.

‘n Paar jaar gelede is ‘n studie onder ‘n groep mense gedoen.  Hulle was van wyd uiteenlopende agtergronde.  Oud tot jonk, mans en vrouens en ook van verskillende kultuurgroepe heen.  Aan almal is dieselfde vraag gevra naamlik, “As jy uit al die mense wat tot nou toe nog ooit op aarde geleef het kon kies, wie sou jy graag eerder wou wees?” Dis ‘n eenvoudige vraag. Hulle antwoorde het gewissel tussen Einstein, Bill Gates, Richard Branson, Amelia Earhart en nog baie ander.  Almal die name van mense wat ryk of beroemd is, maar, kan jy raai watter naam het by elke persoon wat aan hierdie studie deelgeneem het ontbreek het?  Hulle eie.

Nie een persoon aan wie hierdie vraag gevra is, het sy of haar eie naam gegee nie.  Elkeen wou iemand anders wees.  Die rede is redelik eenvoudig.  Ons sien iets in daardie ander persoon wie se naam ons genoem het, wat ons die indruk gee hulle het ‘n beter of makliker lewe as ons.  Ons dink omdat iemand ryk is of miskien groot dinge in die lewe reggekry het dat hulle die “wenresep” het en weet hoe om die lewe en sy uitdagings sommer gou-gou die hoof te bied, maar ons misgis ons eintlik.

Kyk na Dawid. Hy was ‘n koning en boonop ‘n man na God se hart!  Tog, God moes hom telkemale uit die moeilikheid help omdat einste hy wat Dawid was op meer as een geleentheid verkeerde keuses gemaak het en ander kere weer omdat sy vyande hom wou vernietig.  Elke keer was God daar vir hom en het Hy nooit vir Dawid in die steek gelaat of voor sy vyande beskaamd laat staan nie.

Dis vandag steeds so. God ontferm Hom oor jou nét soveel soos oor ‘n koning Dawid en Hy sal jou ook red, maak nie saak wat nie.  Wat ook al gebeur, as jy die Here heeltemal vertrou sal dit tot jou voordeel en nie jou nadeel wees nie.

Sterkte!