Dagstukkies met Anton 17 April 2019
April 17, 2019
Johannes 5: 24-25: #Opstanding
“Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle: Die uur kom, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat gehoor gegee het, sal lewe..”
Ek moet bieg. My vrou raas altyd met my. Sy sê ek hoor maar ek luister nie! Ek vermoed gelukkig ek is nie die enigste een met dié probleem nie. Ons manne is nie juis bekend daarvoor dat ons altyd met aandag luister wanneer daar by die huis met ons gepraat word nie. Verál nie as jou vrou vra wanneer jy van plan is om die gras te sny, die swart sak uit te sit of dalk die huis te verf nie. Om te hoor is een ding, om te luister iets heeltemal anders.
‘n Paar jaar gelede praat ek met ‘n man wat ek nie persoonlik eintlik geken het nie. Hy was oppad iewers heen en het ‘n saamry geleentheid by my gesoek. Terwyl ons onderweg was praat hy aanhoudend oor die kerkraad waarop hy dien, oor die gemeente waarby hy betrokke is en ook oor al die belangrike besluite wat hulle as kerkraad oor die volgende paar weke moet neem.
Na aanleiding van alles wat hy gesê het, het ek aanvaar hy móét sekerlik ‘n sterk persoonlike verhouding met die Here Jesus Christus hê en sekerlik vra hy daagliks die Heilige Gees om hom in alles te lei, ook wanneer hierdie belangrike besluite op die kerkraad geneem moet word. Ek het dus op my beurt begin getuig oor hoe ek al die Here se krag in my lewe ervaar het en hoe ek vele kere op ‘n dag wysheid van God vra en dan gee Hy dit vir my. Ek het hom ook vertel hoe ek al ondervind het hoe die Heilige Gees my daagliks lei.
Ek was verbaas. Hierdie man het my met so ‘n “blank” uitdrukking op sy gesig gesit en aangestaar. Onmiddellik het ek geweet, hy ken die dinge van die Here, maar nie die Here van die dinge nie. Sy hele lewe draai om die gemeente waar hy betrokke is. Hy woon elke diens by en hoor gereeld God se woord, máár hy het nog nooit waarlik geluister nie. Hy dink sy goeie werke, die moeite wat hy doen en die tyd wat hy aan sy gemeente afstaan sal hom (hopelik) ‘n plek in die hemel verseker, maar eintlik is dit alles eenvoudig net verniet.
Luister dus vandag mooi! Christus se offer aan die kruis was ‘n volkome een. Jou goeie dade voeg niks daartoe by nie en dit neem ook niks daarby weg nie. Wanneer jy aandagtig luister en jy glo in jou hart hierdie offer was vir jou sê God jy ís gered. Gered tót goeie werke en nie as gevolg daarvan nie. Staan op jy wat geestelik dood is en aanvaar die Seun van God as jou verlosser en wees waarlik vry.
Sterkte!