Dagstukkies met Anton 16 April 2019

April 16, 2019

Job 19:25:  #Opstanding

“Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.”

Ons ken die storie.  Job was ‘n welgestelde man.  Hy was voorspoedig in elke opsig met baie vee en was ook geseën met tien kinders.  Inderdaad, hy was ongetwyfeld die rykste man in die streek waar hy gewoon het.  Toe begin dit.  Die een tragedie na die ander tref hom.  Hy verloor alles, selfs sy kinders sterf en uiteindelik verloor hy ook hoop.  Die verhaal van Job is een waaruit elkeen van ons meer oor ‘n baie belangrike geestelike karaktereienskap kan leer.  Daardie karaktereienskap is om God te aanbid, om steeds Sy heerskappy te verklaar selfs al gaan dit baie sleg met ons.

Ek is seker daarvan nie een van ons neem Job kwalik dat hy uiteindelik in totale mismoedigheid op ‘n ashoop gaan sit en homself jammer kry nie.  Ek dink ek sou dieselfde doen.  Maar, kyk wat gebeur in vers 25.  Job se woorde, toe dit die slegste met hom gaan, is ‘n bewys dat hy op ‘n plek in sy verhouding met die Here gekom het waar hy verstaan ongeag wat met hom óf sy besittings gebeur, God is steeds God.

Job het met ander woorde beweeg van ‘n ‘aanbid die Here as gevolg van’ na ‘n ‘aanbid die Here ten spyte van’ houding.  Die verskil tussen die twee is hemelsbreed.  As jy jou liefde, vertroue en ontsag vir God verklaar nét wanneer dit met jou goed gaan is jou verhouding met die Here in groot gevaar en eintlik ook baie oppervlakkig.  Met die eerste storm, teenspoed of tragedie wat jou tref is jy kwaad en sommer ook klaar met die Here.  So is die teendeel ook waar.

As jy jou liefde, vertroue en ontsag vir God verklaar ten spyte daarvan dat jy baie swaarkry is jy op ‘n goeie plek en het jy waarskynlik ‘n diep en ernstige verhouding met en begrip van God.

Let op.  Job het nie gejubel en gejuig toe hy sê hy weet sy Verlosser leef nie, nee om die waarheid te sê hy was steeds baie hartseer, vol emosie en heeltemal oorweldig.  Dit is normaal, maar, ten spyte hiervan bely hy met sy mond hy weet God sal hom red en hy sal eendag voor Hom staan.

Miskien is jy vandag in ‘n soortgelyke situasie.  Jy het net soos Job ook alles verloor en kan nie verstaan waar God is nie.  Jy soek Hom, maar voel jy kry Hom nêrens nie en jy verstaan ook nie waarom Hy al hierdie slegte dinge toelaat om met jou te gebeur nie.  Jy is nie alleen nie.  Baie ander gelowiges is al deur dieselfde, nét soos jy en hulle kan getuig God was die hele tyd daar.  Hy was nooit weg nie.

Staan vandag op, ten spyte van hoe jy voel en ten spyte van wat rondom jou aan gaan en verklaar dat jou Verlosser leef.  Doen dit, selfs terwyl daar trane oor jou wange rol.

Sterkte.