Dagstukkies met Anton 15 April 2019
April 15, 2019
Esegiël 37: 4-6: #Opstanding
“Dor bene, hoor die woord van die HERE! So spreek die Here tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word. En Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en ‘n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal weet dat Ek die Here is.”
Ons almal ken dit, daardie gevoel van magteloosheid wanneer iets wat vir jou belangrik of kosbaar is soos mis voor die son verdwyn. Alles waarvoor jy gewerk het, alles waaraan jy gebou het en alles waarin jy jou hoop geplaas het lyk nou asof dit geheel en al verlore is en niks wat jy doen, kan ‘n verskil daaraan maak nie. In so ‘n situasie is dit vir meeste van ons moeilik om nié ontsteld te raak nie en om positief te bly voel bykans onmoontlik. Mense probeer jou moed inpraat, maar niks wat hulle sê laat jou beter voel nie omdat jy wéét jou wêreld, jou lewe lê voor jou oë aan skerwe.
Daar is vele voorbeelde wat ons kan noem. Jou huwelik met die liefde van jou lewe werk miskien nie uit nie of jy het God dalk vir een of ander deurbraak vertrou en toe gebeur dit nie. Moontlik staan jy op die punt om by die werk afgelê te word of het jou werk reeds verloor. Miskien is dit jou kinders wat die pad byster geraak het en nou lê jy snags wakker met bekommernis oor hulle. Wat dit ook al is, jy wéét waarvan ek praat.
In Esegiël 37 lees ons die verhaal van so ‘n oënskynlik hopelose situasie. God vat hom (Esegiël) om te gaan kyk na die vallei vol doodsbeendere. In dié storie sien ons hoe God vir Esegiël tussen hierdie dor droë dooie bene deur lei. Dan vra Hy, “Mensekind, kan hierdie bene weer lewende mense word?”. Arme Esegiël weet glad nie wat om te sê nie en laat die antwoord op hierdie vraag liefs aan die Here oor. Toe gee God aan Esegiël ‘n opdrag en sê hy moet met die dooie bene praat en hy moet met sy mond verklaar hulle sál weer bymekaarkom. Hy moet sê dat God weer vlees, spiere en vel aan hierdie bene sal vorm en daar sál lewe in hulle geblaas word en hulle sal weer opstaan. Terwyl Esegiël doen wat God beveel het, hoor hy ‘n groot gedreun en sien hoe presies dít wat hy gespreek het begin gebeur. Kort voor lank staan daar ‘n groot klomp mense rondom hom waar daar voorheen niemand was nie. Hierdie skrifgedeelte verwys na die volk van Israel. Hulle was in ballingskap vêr verstrooi en dit het gelyk asof alles verby en hopeloos was, maar God doen die onmoontlike en Hy bring uiteindelik herstel.
In ons eie lewe het ons soms nie ‘n ander keuse as om, soos Esegiël in die teenwoordigheid van die Here feite in die gesig te staar en aan onsself en God te erken ons het nie die antwoord nie. Soos Esegiël moet ons ook wag op God se antwoord of opdrag en bereid wees om daaraan gehoorsaam te wees, selfs al sou dit vir my en jou onrealisties lyk. Dit was eers toe Esegiël die woorde wat God hom gegee het fisies spreek dat die wonderwerk gebeur het. Hy moes dus éérs met ‘n aksie gehoorsaam wees voor God beweeg het.
Soek jy ook vandag die Here in jóú hopelose situasie en erken en aanvaar jy dat jý niks daaraan kan doen nie? Hoor dan wat Hy daaroor te sê het en gaan doen dít in geloof sodat jy ook kan sien hoe daardie spreekwoordelike doodsbeendere in jou lewe weer opstaan.
Sterkte!