Dagstukkies met Adrie 11 Junie 2019 (Luister)
Junie 11, 2019
EFFESIERS 6:11: #Oorlog
“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.” (1933/53-vertaling)
Vir langer as ‘n jaar gesels die Here met my oor Sy wapenrusting. Kort nadat ek in 2017 by my vorige werk weg is, het ‘n boek van Priscilla Shirer, Die wapenrusting van God, my oog in ‘n boekwinkel gevang. Dis nie die tipe boek wat ek gewoonlik koop nie, maar ek het. Vir lank lê die die boek op my boekrak tot Februarie vanjaar toe ek en my man besluit het ek word voltyds Mamma.
Intussen het my jongste begin om by sy voorskoolse groep oor die wapenrusting van God te leer en raak dit, so wanneer ek onthou, deel van my gebedslewe. Die lesse wat die Here vir my vanuit die boek leer maak my deeglik bewus, dat as ouer, ek elke dag die volle wapenrusting MOET aantrek, nie net vir myself nie, maar ook vir my man, kinders en my familie.
Want sien, hoewel ons beslis nie die duiwel agter elke boom en bos wil sien nie, is hy eintlik daar. Moet ons in vrees lewe? Beslis nie! Ons moet wel bewus wees van hom.
In haar boek skryf Priscilla: “Satan is slu, maar hy is nie baie oorspronklik of besonders kreatief nie. Hy het altyd dieselfde basiese plan.”
Die wapenrusting is God se baie noodsaaklike toerusting aan jou en my om ons nie net te beskerm nie, maar om ons bewus te maak van wat om ons aangaan. Om ons paraat te maak en voor te berei vir ‘n geveg waaraan ons soms, nie eers weet ons deelneem nie
Die goeie nuus is dat Jesus weet, en Hy is so lief vir my en jou dat Hy in Sy groot genade gaan aanhou om jou te herinner aan dit wat noodsaaklik is vir jou.
Lees vandag EFFESIERS 6: 10 – 19. Plak ‘n nota op jou yskas, trek ‘n streep by jou voordeur of hang ‘n soldaatteken aan jou sleutel. Maar maak seker dat vanaf vandag jy elke dag al jou geestelike klere aanhet voor jy die huis verlaat.
Alles wat mooi is!
Groetnis
Hierdie lied inspireer my.