Dagstukkies met Adrie 10 Junie 2019 (Luister)
Junie 10, 2019
PSALM 18: 40: #Oorlog
“En U het my met krag omgord vir die stryd; U het my teëstanders onder my laat buk.” (1933/53-vertaling)
Ons tema hierdie week is #Oorlog. Beslis nie ‘n woord wat jou hart warm laat klop nie! Dit maak eerder ‘n negatiewe gevoel in ons wakker: een van onsekerheid, vrees, angs of dalk is dit ‘n gedagte wat ons eenvoudig nie aan wil dink nie.
Maar die oorlog is werklik. En as kind van God, is jy elke dag in ‘n baie werklike geestelike oorlog betrokke. Dit is ongelukkig een wat ons soms verkies om diep in ons hartkamers weg te bêre, te ignoreer en nie aan te dink nie. As ons die wind nie kan sien nie, beteken dit nie hy waai nie! Dit is net so met ons vyand. Ons kan hom dalk nie sien nie, maar ons moenie dink hy is nie daar en besig met ‘n baie spesifieke plan om my en jou aan te val nie. Sy oorlogstrategie vir elkeen van ons is anders. Hierdie onsigbare vyand is ‘n werklikheid en sy handewerk lê soms soos stukkende glas (lees drome, geleenthede, verhoudings, lewens) agter ons.
Gelukkig is ons reeds meer as oorwinnaars verseker Romeine 8:37 ons. As kinders van God het ons toegang tot ‘n skatkis van God se beskerming. Gebruik ons dit? Trek jy daagliks jou wapenrusting aan wat Jesus in Efesiërs 6:10 –19 vir jou gee of dink jy dit is net nog ‘n rympie wat jy soms kan lees as jou dagstukkieboek toevallig daarop land?
Liewe vriende, ons moet erns maak met God se Woord. Ons kan nie aan die slaap gevang word of naïef wees nie. Ons moet voorbereid wees en nie bang nie, want ons Koning het reeds die oorwinning behaal. Die duiwel is reeds verslaan. En hy weet dit.
Maak hierdie week seker dat jy jou wapenrusting ernstig opneem. Memoriseer dit. Leer dit vir jou kinders en kleinkinders. Moenie jou kamer verlaat sonder dat jy volledig aangetrek is nie.
Môre gesels ons verder oor die #Wapenrusting en hoe dit jou gaan voorberei om in volle oorgawe te kan lewe aangesien Hy jou met krag omgord het vir die stryd waarin Hy reeds jou vyande verslaan het!
Hoe heerlik is dit nie? Om reeds in die wenspan te wees!
Alles wat mooi is,
Groetnis
HIERDIE LIED INSPIREER MY