Dagstukkies deur Eunice 4 Junie 2019
Junie 4, 2019
Efesiërs 3:8: #Rykdom
“Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig.”
Vanuit die staanspoor moet ons onthou dat rykdom is wanneer God “in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God wat uit die gesig van Jesus Christus straal” (2 Kor. 4:6 NLV). In ons teksvers word daar verwys na die onmeetlike of onpeilbare rykdom, tesame met die genade om hierdie rykdom te kan verkondig.
Wanneer Paulus die brief aan die gemeente in Efese skryf is hy in huisarres vir die verkondiging van die Woord van die Here. Paulus is egter verheug en nie mismoedig nie. Nee! Hy besef dat sy tydelike lyding juis mense na God lei en dat hy te midde van vervolging ‘n getuienis van die Lewende God is. Paulus se vreugde en vrede is slegs genade, afkomstig van God alleen.
In ons eie lewe, ten spyte van die daaglikse uitdagings, het ons die wonderlike sekerheid dat God se genade ook ons harte vernuwe en rig om deur die Gees in Jesus Christus te glo. Waarna verwys die onmeetlike of onpeilbare rykdom dan? Die Nuwe Lewende Vertaling (NLV) omskryf dit in vers 6 so mooi: “die erfenis van God se volk, dat hulle saam lede van dieselfde liggaam is, en saam deel het aan die beloftes wat op grond van die Goeie Nuus (Evangelie) verkry word.” (Ef.3:6 NLV)
Ons is erfgename van God, en dieselfde beloftes van vrede en hoop en ‘n toekomsverwagting in Christus geld ook vir jou en my!