Dagstukkies deur Dennis Francis 4 Januarie 2019
Januarie 4, 2019
DAGSTUKKIES MET DENNIS FRANCIS 4 JANUARIE 2019
2 Kor. 5:17:#Nuwe Begin
“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel, die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”
Na die sondeval in Genesis het die mens gelewe in die sondige natuur van ons teëstander, die duiwel. Kol.2:13 sê: “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnydenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdaad vergeef het.”
So, met ander woorde, ons het die dood verdien, maar toe Christus ons misdade vergeef het, toe kry ons ‘n kans op ‘n nuwe lewe, ‘n nuwe begin. Daarom verklaar Kol.3:4 : “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word,”
Kol.3:9b – 10 verklaar: “Omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het, vernuwe word tot die kennis na die beeld van sy Skepper.”
Daarom as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge naamlik: onreinheid, hartstog, slegte begeertes, gierigheid waarin ons vroeër gewandel het, het verbygegaan. Kyk, dit het alles nuut geword.
Ons spraak is nie meer dieselfde nie, want ons wandel nou in die lig en nie meer in die duisternis nie; want ons is nou beklee as uitverkorenes van God, Heiliges en Geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid.
Gal.2:20 sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my.” Daarom is elke dag ‘n geleentheid vir nuwe uitdagings met nuwe vooruitsigte.
Vrede / Shalom