Bolandse hartskleure dra boodskap van nuwe seisoen
September 19, 2019
Bolandse hartskleure dra boodskap van nuwe seisoen
deur Elize Parker
Op die dag toe Radio Tygerberg 104fm, RoepTV.com en Bloudruk Media se spanne by Perdeberg Wynlandgoed uitspan om onder leiding van verhoudingskenner, Lynette Beer, span-praatjies te maak om mekaar beter te leer ken, sluip ek pure stadsmoeg vroegoggend met ‘n kronkelpaadjie weg om die wingerd te gaan opsoek te kyk of die verknotte knoetstakke dalk al ‘n groen blaartjie of twee wys.
“God se oë deurgrond die aarde,” hoor ek Lynette se stem wegdraal toe ek wegstap. “Hy mis nie diegene wat opreg van hart is nie.”
My oë soek die blou koepel deur waar somerswaels duikel, terug uit die vreemde vertes van hul winterreise.
Hoe wonderlik genesend dat die Skepper van die heelal my opsoek en na my hart kyk. Maar ook na die swaelstert seisoenspilgrims.
Toe ek ‘n rukkie later terugstap na die konferensielokaal, sien ek uit die hoekie van my oog ‘n swaeltjienes toegepleister met modder, netjies onder die dak van ‘n kelderdeur.
Veilig in geborgenheid uit wind en weer.
Binne-in die ruim saal is my kollegas ook aan die werk om hierdie veilige ruimtes tussen mekaar te vind. Aan elke van ons se hemp of t-hemp ‘n aanknipbalkie om die kleur van jou temperament aan te dui: Rooi, geel, groen en blou.
Daar sit ons toe in al ons reënboogheerlikheid en hoor by Lynette hoe maklik ‘n kantoor in volkleur kan omgekrap word as kleurvolle mense nie mekaar se verskille ken, eer en respekteer nie.
Gou lyk dit of aanstoot neem maklik ‘n struikelblok tussen kollegas kan word en hoe dikwels hierdie oprukkerighied oor niks en als uit ‘n gewonde gemoed kan spruit.
En ek pleit skuldig so in my hart en gemoed. En vra vergifnis so stilweg. Lessie Nommer een vir my wat so kennetjie-wip kan raak. My ma se aspriskind.
My gedagtes dwaal na waar die stappaadjie omsoom met die boodskappers van die Kaapse lente is: Aronskelke wat heuphoogte in vleitjies met hul wortels in water staan, maar koppe gedraai na die son pronk.
Lynette se woorde en frases kom lê in my. Jy is nie ‘n prooi van jou verlede nie. Waar is jou stuk genade? Negatiewe gedagtes neem groter spasie in jou brein op. Mense is nie stoele wat jy kan rondstamp nie. Maar veral dan, hou ‘n rein hart. Rein soos aronskelkwit dink ek.
Wit soos wol sê die Woord.
Ek knik toe Lynette be-aam dat ons almal gewond is en dat hierdie seer dikwels die wortel van alle aanstoot is. Sy illustreer met ‘n voorbeeld uit haar eie verlede: ‘n Kwaai pa, ‘n kollega wat haar in die steek gelaat het. Altyd, altyd haar wapen hierteen? Vergifnis, maar met ‘n verskil – sy verduidelik: “Vergifnis beteken egter nie jy koeksuster weer saam nie!”
Vergeef en beweeg aan is dus my les nommer twee.
Haar deeglike navorsing van die brein word ingespan om te verduidelik presies hoe baie van wie ek en jy is, het ons nie gekies nie omdat die stroombane van ‘n brein die eerste sewe jaar van ons lewens neergelê word.
Kleintydprentjies in jou kop word so dikwels dryfvere as jy groot is. Lessie nommer drie.
Dis óf vrees óf vertroue wat jou in die werkplek gaan terughou of motiveer. En hier speel die kleur van jou temperament ‘n rol: Of jy nou ‘n giggelgeel ekstrovert is, ‘n analitiese blou introvert, ‘n nadenkende groen omgeemens of ‘n uitbundige rooi ekstrovert is, jy moet die emosionele intelligensie kan ontwikkel om jou kleurvolle kollegas deur die prisma van die Here se genade te kan lees.
Verder hoor ek nie veel nie. Want die geveerdetjies piep daarbuite en ouers duikel en draai om betyds met kos by die nes onder die dak te kom.
Die voëls van Vader se hemel verstaan veel van geborgenheid wat spruit uit help mekaar, kom mekaar tegemoet en spreek behoeftes aan sodat almal kan groei en reg wees vir ‘n volgende seisoen.
Swaeltjie-veerkragtigheid.
Om vaartbelyn vorentoe te kan vlieg saam met die swerm.
En om uit knus geborgenheid te troos, aan te vul en leiding gee sodat almal se hartskleure tot hul reg kan kom.
As deel van @Radio Tygerberg 104FM se #ROOIverskil, kry die personeel ook hierdie maand baie noodsaaklike maar prettige opleiding by Lynette Beer – Seeds of Inspiration. Almal se persoonlikhede verskil en die span het vooraf reeds hul kleure gekry en die sessie het beklemtoon dat jy slegs ander mense}spanllede regtig kan verstaan wanneer jy elkeen se unieke kleur in jou lewe verwelkom. Die kleure is
Gewilde Geel hou van aandag en is optimisties en gewild
Rasende Rooi smag na beheer en is ’n doener
Besliste Blou streef na perfeksie en raak gou pessimisties
Geruste Groen wil die vrede bewaar en is kalm en bedaard
Elke mens en leier het ‘n spesifieke bestuurstyl en die sessies help personeel om te besef hoe elkeen ‘n rol in Christus se liggaam het om sonder vrees te lei. Getroude personeel het ook die geleentheid gekry om ‘n huwelikswerkwinkel met hul eggenote by te woon en is bederf met Lynette se baie gewilde boek Lewe in volkleur.
Want hoewel ons ‘n #ROOIverskil wil maak, besef ons ‘n kleurvolle span maak die eindproduk net soveel mooier!