Dagstukkies met CLF 31 Mei 2020

Die groot vis

“Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink, en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel”

(Jona 2:7)

Nadat Jona in die see gegooi is, het die Here ’n groot vis gestuur om hom in te sluk. Vir drie dae en drie nagte was hy in die vis se maag. ’n Mens kan dit amper nie glo nie! Maar by God is enigiets moontlik.

Binne-in die vis se maag was Jona baie benoud en bang. Omdat hy God vertrou het, het hy tot God gebid. Die Here het sy gebed verhoor, en die vis het hom op land uitgespoeg. Dit wys vir ons hoe groot en goed God is.

Wanneer jy weer eendag bang is, onthou God is altyd daar vir jou. Bid en glo, en jy sal sien hoe God jou sal help. Ons dink soms God kan ons nie help as ons in groot nood is nie, maar deur die jare heen het God sy kinders altyd gehelp.

 

Grote Here, gee my geloof om op U te vertrou. Amen.

 

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 30 Mei 2020

Jona is ongehoorsaam

“Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug,

weg van die Here af” (Jona 1:3)

Die Here het vir Jona opdrag gegee om na die stad Nineve toe te gaan. Hy moes aan die mense gaan vertel dat God hulle gaan straf oor hul sondes. Maar Jona was ongehoor­saam aan God en het gevlug. Hy het by die hawe van Joppe op ’n skip geklim wat na die ander kant toe op weg was.

Terwyl hy op die skip was, kom daar ’n groot storm op, en die skip wou sink. Die bemanning vind toe uit dat Jona van God af wegvlug, en het hom toe in die see gegooi. Daarna het die storm bedaar.

So baie keer probeer ons wegvlug van God af. Ons is ongehoorsaam en wil nie God se opdragte uitvoer nie. Maar die Here los ons nie uit nie. Hy werk met ons, al moet ons deur baie pyn en lyding gaan. As ek en jy God se koninkryk op aarde wil uitbrei, moet ons gehoorsaam Sy opdragte uitvoer.

 

Dierbare Here, vergewe my asseblief die kere wat ek nie U opdragte uitgevoer het nie. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Lorrein deel resepte

 

Lorrein Katzke is bekend vir haar resepte op Radio Tygerberg. Of jy nou ‘n bo-baas kok met ‘n spens propvol voorraad of ‘n mamma-op-‘n-begroting is, Maandae deel sy heerlike en eenvoudige resepte met jou.

As jy ‘n gunsteling het, deel dit gerus met haar en sy deel dit net dalk met almal!

Maak seker jy is elke dag (maar veral Maandae) ingeskakel op #Kuiertyd van 12:00 tot 15:00 op Radio Tygerberg 104FM met Lorrein Katzke.

Stuur jou resep na rt104fm@gmail.com.

Hier is Lorrein se gunsteling van die vorige weke:

As jy honger is, bly ‘n grondboontjiebotterbroodjie tops! Dis maklik, goedkoop, gesond en perfek vir oud en jonk en almal tussenin!

 

‘n Heerlike sjokoladekoek is sekerlik op ‘n hele paar mense se lysie van laaste hemelse disse al gewees! Hierdie ou staatmaker sal enige inperkingsverjaarsdag in ‘n feesmaal verander!

HEMELSE SJOKOLADEKOEK

Almal se groot gunsteling: ‘n pannekoek! Dis die swartbroek van kosmaak, mens kan dit met suiker en kaneel eet, piesang en karamel, selfs maalvleis en hoender is nie ongenooide gaste as vulsel in hierdie ronde staatmaker nie.

STAATMAKER PANNEKOEK

#MAKLIKE KLAPPERTERT – MMMMMMM, IMPOSSIBLE PIE! NJAMMIES

#HEERLIKE VLEISBROODJIE – DIS LIP-LEK-LEKKER

 

#DRIE-BESTANDDEEL-GRONDBOONTJIEBOTTER-KOEKIES-WAT-NIE-KAN-FLOP

#HOENDERSOP

 

#GROENTEMUFFINS

 

#HOENDERBORSFILETTE IN DIE PAN

 

 

 

 

Dagstukkies met CLF 29 Mei 2020

Wees gered

“Die dag van die Here is naby, naby vir al die nasies” (Obadja 1:15)

Ek en jy wat kinders van die Here is, weet dat Jesus eendag weer sal kom. Dan sal Hy al sy mense kom haal en na die hemel neem om daar vir ewig saam met Hom te woon. In baie plekke in die Bybel lees ons daarvan, ook Jesus het dit self gesê toe Hy op aarde was.

Obadja is ’n kort boek in die Bybel. Hierin spreek die profeet oordele uit oor al die nasies wat nie in God wil glo nie. Hy waarsku dat die dag van die Here (sy koms) naby is. Dan kom God sy kinders haal.

Omdat niemand weet wanneer daardie dag is nie, moet ons elke dag gereed wees. Ek en jy moet elke oomblik naby God leef, sodat ons nie onverhoeds gevang sal word nie. Ons behoort uit te sien na daardie dag, want dan kan ons vir altyd in vrede by Jesus wees.

 

Here Jesus, laat u Heilige Gees my gereed maak vir die dag as U weer kom. Amen.

 

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 28 Mei 2020

God roep ook vir jou

“Maar die Here het my agter die kleinvee weggevat en Hy het vir my gesê: Gaan tree as profeet op teen my volk Israel” (Amos 7:15)

Amos was ’n veeboer. Hy het sy skape opgepas en daarmee ’n lewe gemaak. God het hom ook geroep om die mense te waarsku, want hulle het verkeerde dinge gedoen. Arm mense is uitgebuit en onderdruk. Dit was teen God se wil, en daarom het God vir hom, as eenvoudige boer, gekies om sy boodskap te gaan verkondig.

Soos God vir Amos geroep het vir sy werk op aarde, so wil God ook vir my en jou gebruik. Dit maak nie saak watter werk ons doen nie, God wil ons gebruik. Die Here sal vir ons krag en wysheid gee, ons moet net gewillig wees.

God roep ons almal om vir Hom te werk. Dit is ’n voorreg, en ons kan dit doen net daar waar ons is.

Maak my gewillig Here, om vir U te werk. Dankie dat U my wil gebruik. Amen.

 

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 27 Mei 2020

Kom terug

“Maar nou sê die Here: ‘Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur!’ ”

(Joël 2:12)

Ook Joël was ’n profeet wat sy mense na God toe wou neem. Hy het hul sondes gesien, en geweet dat hulle sonder God verlore was.

God het deur die Heilige Gees met die profete gepraat. Hulle het weer op hulle beurt God se boodskap aan die mense oorgedra. So het God dan gevra dat die sondige mense moet terugkom na Hom toe.

Vandag hoor ons ook baie dat ons ons moet bekeer en teruggaan na God toe, maar ons luister nie. Ons dink ons wil nog die lekker in die lewe geniet. Ons sien nie kans om die moeilike pad na God toe te loop nie. Nee, ons sal later terugdraai, maar dan kan dit te laat wees.

 

Dierbare Here, help my om sommer nou terug te draai na U toe, Vergewe my asseblief omdat ek so lank gewag het. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 26 Mei 2020

God sal jou bly liefhê

“Ek sal hulle ontrou genees, Ek sal hulle van harte liefhê”

(Hosea 14:5)

Ongeveer 700 jaar voor die geboorte van Jesus, was daar in Israel ’n hele reeks profete wat die mense gewaarsku het om hulle te bekeer. God self het vir hulle die opdrag gegee om die mense op hul sondes te wys.

Dit was ’n moeilike taak, want die mense was hardkoppig en wou nie luister nie, maar die Here gee nie moed op nie. Hy het baie profete gebruik om sy boodskap oor te dra aan die mense. Die Here het alle mense lief, daarom vergewe Hy en sal Hy hulle weer liefhê soos ons teksvers sê.

Vandag is daar ook baie predikante en mense wat deur God gebruik word. Bid elke dag vir hulle, want dit is ’n groot werk wat hulle doen.

Indien jyself teen die Here gesondig het, draai terug na Jesus toe, en die Here sal jou sonder verwyte weer aanneem en liefhê.

 

Dankie Here, dat U my steeds liefhet. Ek wil graag my sondes teenoor U bely. Amen.

 

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 25 Mei 2020

Volhard tot die einde

“Maar hou jy aan tot die einde toe. Jy sal te ruste gelê word maar weer opstaan en jou bestemde deel ontvang in die eindtyd” (Daniël 12:13)

Omdat Daniël God se kind was, het die Here vir hom goed gesorg solank hy gelewe het. Daniël het altyd op
God vertrou en sy wil gedoen. Hy was nooit skaam om vir die Here te getuig nie. God het hom belowe dat as hy eendag sterf, hy sy regmatige deel sou ontvang. Dit is die ewige lewe.

Ek en jy moet ook Daniël se voorbeeld volg. Hou aan om die Here te dien, vertrou op Hom en God self sal jou beloon.

Daar is geen groter prys as die ewige lewe nie. Dis die moeite werd om aan te hou tot die einde toe. Al is dit soms moeilik om altyd God se pad te loop, glo net God sien alles raak wat jy vir Hom doen, en nooit sal jy spyt wees as jy saam met God in die hemel kan woon nie.

 

Here, help my om elke dag vir U te werk, en om aan te hou totdat Uself my kom haal. Amen.

 

 

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 24 Mei 2020

Daniël in die leeukuil

“Ek gee hiermee opdrag dat in my hele koninkryk die God van Daniël gevrees en geëer moet word. Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig” (Daniël 6:27)

 

Ons ken almal die geskiedenis van Daniël toe hy in die leeukuil gegooi is. In daardie tyd was Darius die koning. Hy het vir Daniël aangestel om na sy sake om te sien. Omdat Daniël so goed in sy werk was, was die ander amptenare jaloers op hom en het probeer om hom in onguns by die koning te bring. Hulle kon niks teen Daniël kry nie, behalwe oor sy godsdiens.

Die amptenare het die koning oorreed om ’n wet te maak dat vir dertig dae lank niemand iets anders mag aanbid as die koning nie, want hulle het geweet dat Daniël sou weier. Dit het toe ook so gebeur, en Daniël is in die leeukuil gegooi.

Ons weet dat Daniël niks oorgekom het nie, want God het hom bewaar. Soos Daniël nie te skaam was om vir die Here te getuig nie, so moet ek en jy nie bang wees om te wys dat ons aan God behoort nie.

 

Help my Here, om nooit skaam te wees om vir U te getuig nie. Amen.

 

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 23 Mei 2020

Hou by jou beginsels

“Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag”

(Daniël 3:17)

In die tyd van Daniël was koning Nebukadnesar aan bewind. Hy het ’n goue beeld laat maak, en beveel dat almal die beeld moes aanbid. Dié wat dit nie wou aanbid nie, sou in ’n brandende oond gegooi word.

Daniël het drie vriende gehad wat ook vir die koning gewerk het. Hulle het geweier om die beeld te aanbid, en die koning het hulle in die oond laat gooi. Omdat hulle getrou aan God was, het hulle niks in die brandende vuur oorgekom nie.

So help die Here ook vir ons as ons by ons waardes en beginsels bly. Ek en jy weet dat daar net een God is vir wie ons aanbid. Moenie bang wees om aan ander te sê of te wys wie ons God is nie. Die Here sal vir ons sorg en red uit die mag van die duiwel.

 

Wonderlike Here, help my om nie bang te wees om voor ander van U te getuig nie. Amen.

 

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.