Dagstukkies met CLF 30 April 2020

God gee alles

“Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne” (Jesaja 43:1)

Hoe wonderlik is dit dat God elkeen van ons ken. Hy weet wat elkeen van ons se naam is. Hy verlos ons. Hy roep ons om sy kinders te wees. En as sy kinders word ons geroep om in sy diens te staan, om sy getuies in die wêreld te wees. Dis mos altyd lekker om vir iemand iets spesiaals te doen. So vra God vir jou en my om ’n spesiale werk vir Hom te doen. Hy vra dat ons hier op aarde in diens van sy Koninkryk sal staan.

Ons lees ook in ons teksvers dat ons aan God behoort. Wat ’n voorreg dat God vir jou sê: jy is Myne. Ons kan nie self besluit om aan God te behoort nie. Hy kies self sy kinders, en daarvoor moet ons elke dag vir God dankie sê. Dat ons aan Hom behoort, is net genade van God.

Wees elke dag dankbaar teenoor God dat Hy vir ons geroep het, anders was ons almal verlore.

 

Here, dankie dat U vir my geroep het, en dat U my naam ken. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 29 April 2020

Hoe groot is God?

“Kyk op na die hemel: wie het die sterre geskep?” (Jesaja 40:26)

 

Baie keer het ek al gewonder wat God alles kan doen. Ons lees in die Bybel dat God alles kan doen. Maar met my menslike verstand wonder ek nog steeds hoe groot God werklik is.

Gelukkig het God vir ons ’n Bybel gegee waar ons die belangrikste antwoorde kan kry. In ons heel eerste dagstukkie het ons gesien dat God alles gemaak het. As ons na die aarde, die sterre, maan en son kyk, kan ons werklik besef hoe groot God is, en dat Hy alles kan doen. Wie anders kon die heelal gemaak het, so groot en wonderlik?

As ons die Bybel gereeld lees, sal ons agterkom dat daar maar net een God is wat alles kan doen. Teenoor God is alle ander afgode niks. Vra maar enige tyd vir God om vir jou iets te doen. Hy sal jou help, niks is te groot of te klein vir Hom nie.

Grote God, dankie dat ek nou besef hoe groot U is, en dat U alles kan doen. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

Dagstukkies met CLF 28 April 2020

Ons ewige Here

“Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig” (Jesaja 40:8)

 

Elke dag sien ons in die natuur die mooi bome, plante en blomme. Dis net jammer dat daardie mooi plante en blomme nie vir altyd hou nie. Na ’n tyd gaan die plante dood en die blomme verlep. So gaan dit ook maar met ons as mense. Mense word gebore, word groot, maar gaan uiteindelik maar weer dood.

So is dit maar in hierdie lewe op aarde. Niks bly vir ewig nie. Gelukkig is daar ’n God wat vir altyd daar sal wees. Solank die Here daar is, hoef ons ons oor niks te bekommer nie. As ons ons harte vir Hom oopstel, sy kinders word, sal ons ook vir ewig by Hom in die hemel gaan woon.

Niemand weet hoe dit in die hemel sal wees nie. Die Bybel vertel vir ons net so ’n bietjie daarvan, maar wat ons wel weet, is dat daar net vrede en liefde sal wees.

 

Ewige Here, dankie dat U vir altyd vir my daar is. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 27 April 2020

 

Help die moedeloses

“Sê vir dié wat moed verloor het: ‘Wees sterk. Moenie bang wees nie, julle God is hier’ ”

(Jesaja 35:4)

 

Daar is mense wie se voltydse werk dit is om ander te help, mense soos predikante, dokters en maatskaplike werkers. Maar ons kan nie verwag hulle moet alle mense help met probleme nie. Ons is elke dag by ons familie en vriende. Ons sal gou agterkom wie van hulle probleme het, of selfs moedeloos is.

As ons op mense ingestel is, soos God dit van ons verwag, sal ons gou sien wie hulp nodig het. Stel belang in die mense rondom jou. Vra hoe dit gaan en wees altyd vir hulle ’n vriend. Wanneer jy dan agterkom dat so iemand moedeloos is, kan jy luister en moed inpraat. Een van die beste maniere is om mekaar te herinner aan God se beloftes. Soos Jesaja die volk hier bemoedig: wees sterk, moenie bang wees nie, want God is hier.

 

Here Jesus, help my om dié wat in nood verkeer te kan raaksien. Dankie dat U by ons is. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

Dagstukkies met CLF 26 April 2020

God is alles

“Die Here is ons Regter, die Here is ons Leidsman, die Here is ons Koning, Hy sal ons red.”

(Jesaja 33:22)

 

Gedurende die tyd toe Jesaja profeet was, het dit nie met die Israeliete goed gegaan nie. In die vorige dagstukkies het ons gesien dat hulle vol sondes was. Hulle was ook bang vir hulle vyande. Gelukkig bring Jesaja goeie nuus wat van God self af kom.

Die Here is ons Regter. Dit beteken dat God reg sal laat geskied. Die Here is regver­dig en sal vir sy kinders gee wat hulle toekom. Vandag is Hy ook jou en my Regter, wat ons sal beskerm.

Die Here is ons Leidsman. Hy is ook vandag ons Leidsman wat ons op die regte pad wil lei. Vra net vir Hom en Hy sal jou raadgee.

Die Here is ons Koning. Sê dankie aan God dat Hy Koning van jou lewe wil wees. As God Koning is in elke land in die wêreld, sal daar vrede wees.

Hy sal ons red wanneer ons benoud en bang is, God sal ons veilig hou en altyd beskerm teen die bose.

 

Regverdige Koning, dankie dat U alles in my lewe is. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

Dagstukkies met CLF 25 April 2020

 

God wys die pad

Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ’n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs’.  (Jesaja 30:21)

 

Om te verdwaal is nie lekker nie. Ons is op pad na ’n sekere plek, maar nou kry ons dit nie. Ons loop of ry op ’n verkeerde pad, heeltemal van koers af. Dan beland ons in die moeilik­heid en moet ons maar liewers hulp gaan vra.

Baie van God se kinders dwaal ook soms van die regte pad af. In die Bybel lees ons byvoorbeeld van Dawid, Simson, en nog ander, wat die verkeerde pad gevat het. Hulle was opregte kinders van die Here, maar die duiwel het hulle verlei.

So gaan dit soms ook met ons. Ons dien die Here, doen sy wil, gaan kerk toe, lees die Bybel, maar partykeer lei die duiwel ons na die verkeerde dinge toe. Gelukkig het ons vir Jesus wat ons weer op die regte pad sal bring. As jy miskien eendag die verkeerde pad loop, onthou hierdie woorde in ons teksvers. God sal jou terugroep na die regte pad. Maar dan moet jy na God luister.

Eenkeer God se kind, altyd God se kind.

 

Here, as ek weer verdwaal, bring my asseblief weer terug na die regte pad. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

Dagstukkies met CLF 24 April 2020

God met ons

“Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem” (Jesaja 7:14)

 

In die tyd van Jesaja het die Israeliete baie swaar gekry. God het toe vir Jesaja geroep om ’n profeet te wees. Hy moes hulle waarsku teen hulle sondes. Alhoewel hulle ver van God af gelewe het, was God genadig, en het Jesaja ’n blye boodskap vir die volk gehad. God sal die volk van hulle vyande verlos. En daar sal ’n teken wees: ’n jong meisie sal ’n seun kry met die naam Immanuel, wat beteken God met ons.

Toe Jesus, die Seun van God, as mens gebore is, het God op ’n nuwe manier by ons kom woon. As ons Jesus as ons Verlosser aangeneem het, woon sy Heilige Gees in ons harte. Nou is Hy regtig altyd by ons. Dan hoef ek en jy geen vrees meer te hê nie, want God self sal ons bewaar teen al die bose dinge.

 

Baie dankie Here, dat Jesus en die Gees gekom het om elke dag by ons te wees. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 23 April 2020

Mense is min werd

“Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik die laaste asem uit. Hulle is min werd.”

(Jesaja 2:22)

 

Dit klink so verkeerd om te sê dat mense min werd is. Daar is dan so baie mense wat ons respekteer en na wie ons gaan om hulp te kry, soos ons ouers, ons vriende en familie, predikante, kundige mense, wyse mense. Mense wat deur die jare vir ons so baie dinge geleer het, is vir ons kosbaar.

Natuurlik is mense baie werd. Maar Jesaja het ons teksvers geskryf omdat die Israeliete op mense en volke vertrou het. Hulle het op mense alleen vertrou. Hy waarsku die Israeliete om net op God te vertrou. Hy alleen is altyd betroubaar. Hulle moet hulle bekeer, en hul geloof en vertroue in die Here stel. Dan sal God weer goed wees vir sy volk, en hulle red uit die mag van die vyande.

Ja, ons kan soms staatmaak op mense, maar ons moet altyd op God vertrou. Hy is groot en almagtig en kan baie meer doen as mense.

 

Betroubare Here, dankie dat U alles in my lewe is. Help my om op U te vertrou. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 22 April 2020

Liefde tussen man en vrou

“Jy is so mooi, so bekoorlik, liefste, met soveel wat geniet kan word” (Hooglied 7:6)

 

Die boek Hooglied is ’n gedig, ’n lied oor die liefde tussen ’n man en vrou. Dit is die Here wat die man en vrou gemaak het om na mekaar te verlang, oor mekaar te droom en vir mekaar mooi te wees. Hierdie brandende liefde tussen man en vrou is ’n geskenk van die Here. Hy wil dat ons dit geniet. Daarom sing die digter oor hoe wonderlik en mooi die vrou van sy drome is. Ook die vrou vertel hoe aantreklik haar geliefde man vir haar is. In die nag verlang sy na hom.

Die liefde tussen man en vrou is nie altyd net maanskyn en rose nie. Daar is onge­lukkig ook misverstande en groot hartseer. Mooi liefdesver-houdinge breek soms stukkend.

Daarom is dit belangrik om te verstaan dat so ’n liefdesverhouding net tussen een man en een vrou kan wees, binne die huwelik waar hulle mekaar vertrou. Dit is ook belangrik om die regte lewensmaat te kies en op die regte manier met hom of haar te lewe. Nou hoe sal ons dit regkry? Daar is net een manier: gaan na die Here toe en vra Hom vir wysheid. Alleen Hy kan ons help om in ’n gelukkige liefdesverhouding te leef.

Here, wys vir my die regte persoon aan om mee te trou. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 21 April 2020

Die Boodskap

“Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word” (Prediker 12:13)

Die prediker het baie dinge geskryf oor wat hy gesien en ondervind het. Hy was ’n praktiese mens wat die lewe geniet het. Tog skryf hy ook oor die moeilike dinge in die lewe. Almal word oud, en dan is die lewe nie maklik nie. Jongmense moet doen waarvan hulle hou, maar hulle moet onthou dat hulle eendag aan God rekenskap moet gee vir hul dade.

Teen die einde kom die prediker tot ’n slotsom. Ons lees dit in ons teksvers. Die belangrikste wat ons in die lewe moet doen, is om aan God gehoorsaam te wees. Maak nie saak wat in ons lewe gebeur nie, of dit goed of sleg gaan nie, leef gehoorsaam aan die Here, vertrou Hom. Dan sal daar vrede in jou hart wees, en sal jou lewe nie leeg wees nie.

Here, U wat my lewe in u hand hou, gee my krag en wysheid om elke dag U te dien en U gebooie te gehoor­saam. Amen.

 

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.