Dagstukkies met CLF 31 Maart 2020

Prys die Here

“Laat alles wat asem haal, die Here prys” (Psalm 150:6)

                                      

Hierdie is die laaste Psalm in die Bybel. Daar staan dat almal en alles wat asemhaal die Here moet prys. Wat beteken dit om iemand te prys? As jy goeie dinge van iemand sê, en as jy hou van wat hy of sy doen, dan prys jy daardie persoon. Elke mens hou daarvan om geprys te word, dit laat jou sommer goed voel.

Die Here is so goed vir ons, en Hy doen so baie, dat dit die regte ding is om Hom te prys. Hy sorg dat ons gesond bly, Hy gee kos en klere, maar bo alles vergewe Hy ons sondes. Daarom het Jesus aan die kruis gesterf sodat ons vir ewig saam met God in die hemel kan woon.

Probeer om elke dag raak te sien hoeveel goeie dinge ons uit God se hand ontvang. Maak dan tyd om Hom te prys, want al hierdie dinge ontvang ons ook sonder dat ons dit verdien. Dit maak die Here bly as ons Hom loof en prys.

 

Here, ek wil U met my hele hart prys. Dankie vir alles wat U vir my doen. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

#21Dae van Isolasie: Radio Tygerberg bly uitsaai

104fm_Lockdown

PERSVRYSTELLING 30 MAART 2020

RADIO TYGERBERG 104FM – JOU LUISTERVRIEND IN ONSEKER TYE

Twee maande gelede sou niemand kon dink dat reisbeperkings, grootmaataankope, selfkwarantyn en gesonde afstand ’n normale deel van mense se dag-tot-dag sou wees nie. China was ver genoeg dat die Ears-virus (ernstige akute asemhalingsindroom) en Midde-Oosterse Asemhalingsindroom (Mers) wat ‘n paar jaar gelede soos veldbrande versprei het, Suid-Afrika feitlik verbygegaan het. Waarom dan iets ander verwag van die COVID-19-virus.

Vanuit alle oorde word ernstige beroepe op Suid-Afrikaners gedoen om tuis te bly, van die huis af te werk, goeie higiëne toe te pas en ‘n gesonde afstand te hou.  “Flatten the curve” bly die hoofdoel om mediese spanne en hulpbronne nie te oorweldig nie.

Vanaf middernag op Vrydag 26 Maart 2020 is Suid-Afrika in ‘n Staat van Inperking geplaas.

In hierdie tyd kan jy bly staatmaak op Radio Tygerberg 104fm as jou betroubare luistervennoot en stasie van hoop. As ‘n noodsaaklike diens, bly die stasie op lug en daartoe verbind om mense te impakteer en inspireer met die verlossingskrag van Jesus Christus.

“Ons verskillende platforms gaan jou op hoogte hou van die jongste inligting oor COVID-19 maar ons glo aan ‘n gebalanseerde benaderig. Maak dus seker jy laai ons toepassing (app) af en volg ons op sosiale media om te verseker jy het die regte inligting aan jou vingerpunte het. Die webblad bevat ook nuus oor COVID-19 en meer oor wat die Staat van Inperking behels. Dit is ook propvol potgooie van vorige onderhoude en inspirerende programme waarna jy in die 21 dae kan luister. Maak dus seker www.radiotygerberg.co.za is altyd op jou rekenaarskerm oop,” sê Rikus van Rooy, inhoudsbestuurder.

Tydens die 21 dae van inperking, sal Radio Tygerberg 104fm selfs meer musiek speel en luisteraars op hoogte hou van die jongste nuus oor die virus.

HOE RAAK DIT RADIO TYGERBERG 104FM SE LUISTERAARS EN ADVERTEERDERS

Die minimum personeel sal vanuit ons kantore in Parow werk met die res van die personeel wat vanaf hul huise sal werk.

“Geen van ons werksaamhede word dus ingekort of kanselleer nie. Die gebeds- en beradingslyn sal slegs weeksaande tydens 19:00 en 21:00 beman word en luisteraars word aangemoedig om eerder tydens hierdie tyd gebedsversoeke per WhatsApp of per SMS in te stuur,” sê Van Rooy.

Radio Tygerberg 104fm bly die Skiereiland se betroubare Christenstem, inligtingsbron en advertensiemedium*.

Hardus Zevenster, hoof uitvoerende beampte van die stasie beklemtoon die reuse rol en verantwoordelikheid wat die stasie tydens die isolasie-tydperk gaan speel.

“Dit is ons voorreg om mense met nuwe inhoud, ‘n nuwe aanslag en nuwe inspirasie deur hierdie tyd te help dra.”

Hy benadruk die belangrikheid van besighede en maan dat hul nie nou moet verdwyn nie. Handelsmerke moet juis in hierdie tyd aktief gehou word en hul bemarkingsplanne met luisteraars deel.

“Ons bied in hierdie tyd uitstekende pakkette vir adverteerders aan. Met almal tuis en die radio aan is dit nou die perfekte tyd om jou besigheid met die Skiereiland te deel,” voeg hy by.

“In ‘n tyd waar kommunikasielyne so maklik kan kruis en jou totaal oorweldig laat voel, bly ingeskakel op die stasie van hoop wat verseker dat jy nie net betroubare inligting kry nie maar ook die beste musiek om jou en jou geliefdes te inspireer. As Christenradiostasie help ons om die wêreld se deurmekaar gekruisde lyne, deur Jesus aan die kruis, reguit te trek.”

Zevenster versoek ook dat luisteraars die regering ten volle steun en so saamwerk om Suid-Afrika deur een van die uitdagendste tye in ons geskiedenis te kry. “Wat ‘n voorreg om in hierdie tyd Sy hande en voete te mag wees’.

END

* Spesiale pakkette is beskikbaar vir adverteerders asook ‘n spesiale LOCKDOWN-insetsel tydens die 21Dae. Stuur ‘n e-pos met jou naam en kontaknommer aan sales@104fm.co.za en ‘n konsultant sal jou kontak.

 

Dagstukkies met CLF 30 Maart 2020

God sorg vir die natuur

“Hy oordek die hemel met wolke, Hy voorsien die reën vir die aarde en laat gras op die bergland uitspruit” (Psalm 147:8)

 

Niemand kan soos God wees nie. Hy het die aarde, see, son, maan en sterre gemaak. Die slimste mens op aarde sal dit nie regkry nie. Daarom sê ons God is almagtig. Hy het mag oor alles wat bestaan.

God het mag oor die natuur. Hy sorg vir reën sodat daar gras kan wees vir diere. Sonder reën sal ons as mense nie kan bestaan nie. Sonder reën sou ons nie kos gehad het om te eet nie. Daar sou ook geen lewe op aarde wees sonder reën nie.

As jy weer eendag sien hoe die reën val, sê dankie vir die Here. Ook as die gras ná die reën begin groei, weet dat dit alles van God af kom. So sorg God vir alles wat op aarde leef. Dit doen Hy omdat Hy ons so baie liefhet.

 

Dankie, Here, vir die reën. Gee asseblief reën in daardie gedeeltes van die land waar daar droogtes is. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 29 Maart 2020

God is regverdig

“Hy laat reg geskied aan verdruktes en gee brood aan die hongeres. Die Here bevry die gevangenes, die Here laat blindes sien, Hy ondersteun dié wat bedruk is” (Psalm 146:7)

 

Ons as mense dink mos soms dat ons beter as ander  is. Ons oordeel so graag ander mense. Ons voel trots op onsself, want ons is mos nie so sleg soos ander nie, dink ons.

Vandag is daar baie mense wat oortree het en in ons tronke sit. Die tronke is oorvol. Wanneer ’n misdadiger gevang word, is ons baie bly: hy kry sy verdiende loon! Ons ken nie altyd daardie persoon se omstandighede nie. Ons moet versigtig wees om te oordeel, net God kan oordeel.

In ons teksvers staan dat God die gevangenes bevry. Hy sorg nie net dat hulle uit die tronk kom nie, maar bevry hulle ook van hul sondes.

Probeer om ook vir die kwaaddoeners in die tronke te bid, dat hul lewens sal verander, en ook dat hulle deur die Heilige Gees gelei sal word tot God se kinders.

 

Vader in die Hemel, vergewe tog die mense in die tronke se sondes. Help my om ook vir hulle te bid. Amen.

 

 

Dagstukkies met CLF 28 Maart 2020

Hoop op God

“Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig” (Psalm 143:8)

 

In ons daaglikse lewe is daar baie besluite of keuses wat ons moet maak. Miskien het ons al voorheen ’n besluit gemaak wat toe op die ou end nie uitgewerk het nie. Dan is ons spyt dat ons die verkeerde ding gedoen het. Ons is maar net mense, en elkeen kan foute maak. Die probleem is dat ons nie dieselfde fout oor en oor wil maak nie.

Hier lees ons vandag dat ons God se pad moet loop, en op Hom ons hoop moet vestig. Wanneer ons God se kinders is, en ons glo in Hom, kan ons maar net vra en Hy sal ons die regte keuses laat maak. God is lief vir sy kinders en sal nie verkeerde raad vir ons gee nie.

As jy weer ’n moeilike besluit moet neem, bid gelowig tot God, vestig jou hoop op Hom, en Hy sal vir jou die regte raad gee. Vertrou Hom en loop die pad wat Hy jou wys.

 

Here, vat my hand elke dag as ek moeilike besluite moet neem, en lei my op die pad na U toe. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 27 Maart 2020

Dink voor jy praat

“Sit ’n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê” (Psalm 141:3)

 

Om te kan praat is genade van die Here. In die wêreld is daar baie mense wat nie kan praat nie. Party is stom gebore, ander het miskien ’n siekte gekry of iets oorgekom sodat hulle nie kan praat nie. Mense praat met mekaar, en ons geniet dit om te gesels.

Ons kan ook mense seermaak met wat ons sê. Soms is ons ongeduldig met iemand en dan sê ons vir daardie persoon dinge wat nie reg is nie. Later is ons spyt dat ons dit gesê het. Dawid vra in hierdie Psalm dat God ’n wag voor sy mond sal sit. Met ander woorde, Hy vra dat die Here hom moet help om te dink voor hy iets vir iemand sê. Ook dat hy mooi dinge vir mense moet sê.

Vra die Here om jou geduldig met mense te maak, en hulle met respek te antwoord.

 

Dankie dat ek kan praat, Here, en leer my om te dink voordat ek praat. Amen.

 

 

Dagstukkies met CLF 26 Maart 2020

Die Here ken jou

“Here, U sien dwarsdeur my, U ken my” (Psalm 139:1)

 

So baie kere dink ons dat die Here nie veel van ons weet nie. Ons dink Hy is té groot en belangrik om Hom nog aan ons as mense te steur. Veral as ons in die nood is of dinge loop verkeerd, dan dink ons God het ons vergeet.

Nee, dis nie waar nie. Soos ons in Psalm 139 lees, ken Hy ons en weet Hy alles van ons af. Daar staan dat Hy ons gedagtes ken. Voordat ons nog praat, weet Hy wat ons gaan sê. Enige plek waar ons is, daar is God.

God ken ons al van voor ons geboorte af. Hy het ons gemaak. Hy weet en sien alles wat ons doen. As ons die mooi en goeie dinge doen, sien God dit raak. Ongelukkig sien Hy ook die verkeerde dinge wat ons doen.

Dat God alles van ons weet, is nie iets waaroor ons bang hoef te wees nie. Ons hoef nie van God te probeer wegvlug nie. Ons kan na God toe vlug, in sy arms in. Want God is genadig.

 

Liefdevolle Vader, dankie dat U ook vir my ken. Gee dat ek altyd volgens U wil sal lewe. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 25 Maart 2020

Familie

“Waar broers so saam woon, skenk die Here sy seën: ’n lang, lang lewe” (Psalm 133:4)

 

Die Here weet altyd wat die beste is vir ons. Hy het vir ons familie en vriende gegee, om ons te help en by te staan as ons probleme het.

In hierdie Psalm skryf Dawid dat dit vir hom so mooi is as broers in vrede saam woon. Ons hoor so baie van families wat nie met mekaar oor die weg kan kom nie. Hulle stry en baklei oor kleinighede en haat mekaar selfs. En dit gebeur ook tussen bure of mense wat saam werk. Selfs mense in die kerk is soms kwaaivriende. Dit is nie wat God wil hê nie. Daar staan in ons teksvers dat die Here mense wat in vrede saamwoon, met ’n lang lewe sal seën.

Indien jy probleme het met een of ander van jou familielede, of met iemand anders, gaan op jou knieë, en vra die Here om jou te help om die saak op te los. Dit sal die Here se hart baie bly maak as julle in vrede kan saamwoon. En dit maak die lewe mooi en ryk.

Here, U wat vrede gee, help my om in vrede met my familie en ander mense saam te leef. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

Werkverskaffing – 24 Maart 2020

W E R K V E R S K A F F I N G

D I N S D A G   2 4  M A A R T   2 0 2 0

Die Werkverskaffingsbulletin word elke Dinsdag om 10h40 uitgesaai op 104fm.

 

 

AKTE SEKRETARESSE DEED SECRETARY
Vereistes: Akte Sekretaresse benodig met spesifieke ondervinding van verbande om spoedig diens te aanvaar.

Epos: CV aan marzanne@heyns.co.za

 

JUNIOR SEKRETARESSE JUNIOR SECRETARY
Vereistes: Visagie Vos Prokureurs benodig ‘n Junior Sekretaresse. N4,N5 & N6 sal ‘n aanbeveling wees.

Epos: CV na marinda@visagievos.co.za

 

SUSTER SISTER
Vereistes: Ons Tuiste ACVV benodig ‘n Suster, registreerd by SAVR, bevel neem van versorgingseenheid, admin take uitvoer, vorige ervaring vir Versorgingseenhede/Dementia, na-ure Noodsituasies hanteer, toepaslike Wetgewing, geatriese ervaring en goeie mense verhoudings.

Rig aansoeke aan: Die Bestuurder, hoof@ons-tuiste.co.za (Sluitingsdatum: 25 Maart 2020)

 

STAF VERPLEEGSTER STAFF NURSE
Vereistes: Ons Tuiste ACVV Dienstak Bellville benodig ‘n Staf Verpleegster en Geregistreerde Verpleeg Assistent. Moet by SANC geregistreer wees vir 2020, kennis van Wet op Ouer Persone, deeglike kennis van Pasiëntsorg, infeksie beheer en medikasie. Goeie kommunikasie vaardighede in Afr & Engels. Indemniteits versekering en goeie mense verhoudings.

Epos CV, gesertifiseerde afskrifte van SA ID en SANC kwitansie vir 2020

Na: hoof@ons-tuiste.co.za of Faks: (021) 948 2706

 

ALARM TEGNIKUS ALARM TECHNICIAN
Requirements: Alarm Technician needed. Must have experience in all brand Alarm Systems as well as CCTV Cameras. Must have a valid driver’s license. PSIRA registered. Start a.s.a.p.

Email CV to suzette.but@mweb.co.za

 

SUPERVISOR SUPERVISOR
Vereistes: Supervisor benodig by CMT met ondervinding vir die maak van Rokke en Golf T-hemde.

Kontak: Samantha by 084 895 1492

 

ONDERWYSERS TEACHERS
Vereistes: Onderwysers benodig met Diploma in onderwys, moet beskikbaar wees om naweke te fasiliteer.

Besoek: www.learn2learn.co.za of skakel: 082 458 0533

 

VAKATURE VACANCY
Vereistes: Help ons leerders in hierdie tyd dat hulle nie agter raak met hul skoolwerk nie. Goed gevestigde organisasie vir 29jr. Verdien R15 000 plus per maand. Opleiding en kliënte word voorsien uit projekte.

Skakel: (021) 910 0992/082 458 0533 of besoek: www.learn2learn.co.za

 

Poste moet asseblief teen Maandae 11:00 gestuur word na reception@104fm.co.za.

 

Dagstukkies met CLF 24 Maart 2020

Vind rus by God

“Ek het rus en kalmte gevind, soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het”

(Psalm 131:2)

 

Daar is baie dinge in ons lewe wat ons onrustig of bang maak. Soms word ons baie siek en kan daarvan doodgaan. Iemand ná aan ons, soos ’n ouer of kind, broer of suster kan skielik sterf. Daar is aardbewings, vloede, droogte, oorloë – dinge wat te groot is vir ons, waaroor ons nie beheer het nie. As sulke dinge gebeur is ons verlore en platgeslaan.

Nou gee Psalm 131 vir ons rustigheid en kalmte. Wanneer ons glo dat God in beheer is oor alles wat met ons gebeur, sal ons by Hom rus vind. Ons kan by God rustig word, soos ’n kindjie by sy of haar moeder.

Indien daar in jou lewe iets gebeur wat jou ontstel, gaan lees Psalm 131, dan sal die Heilige Gees jou help om weer rus te vind.

 

Grote Here, baie dankie dat ek altyd by U rus kan vind. Dankie ook vir Psalm 131. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.