Personeel reik uit: Heartlands Baby Sanctuary

Heartlands kruip diep in 104fm se harte in

Radio Tygerberg 104fm, die grootste Afrikaanse gemeenskapstasie in die Wes-Kaap (volgens die jongste BRC-syfers) het onlangs hul Kind100-fondsinsamelingsprojek van stapel gestuur. Fondse is ingesamel vir kinderhuise en plekke van veiligheid met die fokus op kinders wat gedurende die vakansie geen ander heenkome het nie. Personeel van die stasie besoek hierdie week verskeie organisasies om geskenkbewyse en produkte uit te deel asook om bewustheid te skep vir die reuse nood wat nie-winsgewende organisasies in hierdie tyd beleef. Heartlands Baby Sanctuary is ‘n geregistreerde Kind- en Jeugsorgsentrum asook pediatriese hospice wat 24 uur inblysorg vir wees- en hoë risiko in die Strand.
Radio Tygerberg 104fm het babaprodukte insluitende doeke, melk en sneesdoekies geskenk asook ‘n koopbewys. Khayelitsha Cookies (KCCO) het ook 10kg se tandekrybeskuitjies geskenk. Volgens die Hoof uitvoerende beamte van Heartlands Baby Sanctuary, Monica Buitendag, is skenkings van onskatbare waarde. “Ons werk met verskeie hoogs opgeleide professionele persone by Heartlands. Daar is ook sowat 80 vrywilligers wat help om veral ons baba’s vas te hou en te verseker dat die kleintjies weet hulle is geliefd. Alles kos egter geld. Petrol, elektrisiteit en water, mediese voorraad en natuurlik doeke en melk! Hierdie skenkings verseker dat ons kan voortgaan om hierdie noodsaakliks dienste te kan lewer”.
Heartlands Baby Sanctuary spog met ‘n koffiewinkel en tweedehandse winkel en bied ook funksies aan om hul fondse aan te vul. Besoek gerus hierdie onverwagse juweel indien jy weer in die Helderberg-omgewing is. Enige speelgoed, klere en ander items wat in ‘n goeie toestand is kan ook aan Heartlands Baby Sanctuary geskenk word.

Personeel van Radio Tygerberg 104fm oorhandig produkte en ‘n geskenkbewys aan Heartlands. Voor LNR Eunick Matroos, Natasha Louw, Minda Groenewald en Reinhard Kotze. Agter LNR: Rikus van Rooy, Monica Buitendag (Heartlands), Johan Jacobs (KCCO), Paulina Juettner (Duitse vrywilliger) en Adrie Jurgensen.

JUIG! Desember-uitgawe: It’s Time Pretoria

SEDRICK TALJAARD is algemene bestuurder van Radio Tygerberg 104fm

Hoeveel It’s Time-geleenthede moet daar nog gehou word voordat dié wat dit bygewoon het en die res van die gelowiges in Suid-Afrika die besluite en keuses wat daar geneem is, in hul alledaagse lewe gaan deurvoer?

Tyd om lig en sout te wees

In die gees van It’s Time het dit tyd geword om God op Sy Woord te neem en Hom as ons ware werklikheid te beleef. Want sien, as Hy deur Sy Seun Jesus vir ons meer van ’n werklikheid word as ons omstandighede, hoef ons nie bang te wees om ons omstandighede in die oë te kyk en dit te hanteer nie. Deur die krag van Sy Heilige Gees kan ons dan die daadwerklike verskil in daardie omstandighede en in ons invloedsfeer wees. God wil jou juis daar waar jy jou in Suid-Afrika bevind, gebruik om lig te wees vir die wêreld en sout vir die aarde.

Op Saterdag, 27 Oktober 2018 het ek die geleentheid gehad om die derde It’s Time geleentheid in Pretoria by te woon. Ek was ook bevoorreg om teenwoordig te wees by die eerste It’s Time-gebedsbyeenkoms op 21 April 2017 in Bloemfontein, asook die It’s Time Kaapstad in Mitchell’s Plein op 24 Maart vanjaar.

Daarbenewens het ek in November 2016 die geskiedkundige gebedsaamtrek in die FNB Stadion buite Soweto bygewoon en op 24 November 2018 saam met 250 Christen-gemeenskapsleiers, -politici en -sakelui in die Parlement in Kaapstad gebid.

Ek het telkens ’n spesifieke geestelike beeld vir elk van die It’s Time-saamtrekke ontvang:

It’s Time Bloemfontein – SA voor ’n kruispad

Tydens It’s Time Bloemfontein het baie mense gesê Suid-Afrika staan voor ’n kruispad, toe nog met pres. Jacob Zuma aan die bewind, die Guptas aan ’t konkel, die rand op ’n laagtepunt en groot droogte in die Kaap. Die antwoorde op daardie gebedsbyeenkoms is welbekend – Zuma is onttroon, die Guptas is uit die land, die rand het in daardie stadium versterk en die Kaap se damme is amper vol ná goeie reëns. Vir my het dit egter daaroor gegaan dat ons as Christene in Suid-Afrika ons elke dag van ons aardse lewens op die kruispad bevind – dat ons in ons daaglikse handel en wandel moet kies om ons kruis op te neem deur aan onsself te sterf en Jesus te volg totdat Hy weer kom.

It’s Time Mitchell’s Plein – die Vader met ope arms

In Mitchell’s Plein – tydens ’n vrywilligersaamtrek en gebedsessie ’n week voor die It’s Time-byeenkoms daar – het ek tydens die gebed duidelik in my geestesoog gewaar hoe God die Vader, soos in die gelykenis van die Verlore Seun, met ope arms by die hekke van die Swartklip Sportterrein staan en wag vir Sy verlore kinders om terug te keer na Hom. Uiteindelik het twaalf geharde bendeleiers na vore gekom en besluit om Jesus te volg, net soos toe Jesus die vissermanne van ouds geroep het.

It’s Time Pretoria – die berg Karmel

Hierdie keer beleef ek It’s Time Pretoria as ’n Karmelberg-oomblik. Die nasie wat soos in die tyd van Elia opgeroep word om op een plek en een bepaalde oomblik bymekaar te kom en voor ’n besliste keuse gestel word: “Wanneer gaan julle besluit vir wie julle wil dien? As die Here die ware God is, volg Hom. Maar as julle Baäl as julle god wil dien, doen dit dan. Maak net vandag ’n keuse.” – 1 Konings 18:21 (DB).

Kies daagliks om Hom te dien

Om die Here te dien, is nie ’n eenmalige keuse wanneer ons die dag tot bekering kom nie. Ons moet daagliks kies om Hom te dien, Sy Woord te gehoorsaam en Sy wil te doen. As ons dit nie daagliks doen nie, kry die duiwel vatkans.

Erken die Here is die enigste ware God

Daarom was dit nodig dat ons soos in die tyd van Elia as God se volk bymekaar geroep is by die Rhino Park Vliegveld in Pretoria-Oos om te bid en die Here te vra om “op so ’n manier te antwoord dat hierdie volk (ons land Suid-Afrika) sal besef U is die ware God en dat hulle (alle Suid-Afrikaners) na U moet terugkeer” (1 Konings 18:37 DB).

Net soos in 1 Konings 18:39 in Die Boodskap geskryf staan, het die volk (ongeveer twee miljoen Suid-Afrikaners) op Saterdag, 27 Oktober soos een mens op hul knieë gesak en opnuut die Here erken as die enigste ware God deur die Onse Vader hardop saam op te sê.

Van Geesvervulde pelgrimstog na “harde werklikheid”

Ek praat op die Radio Tygerberg 104fm-bus op pad terug van Pretoria af met een van ons luisteraars en hy sê vir my dat hy nie wil huis toe gaan nie, maar eerder wil terugdraai Pretoria toe omdat hy God se vrede wat alle verstand te bowe gaan, daar ervaar het, anders as by sy eie huis. En ek besef dat ons almal wat ’n baie spesiale Geesvervulde pelgrimstog beleef het, moet terugkeer na die “harde werklikheid” van ons daaglikse bestaan te midde van uitdagende lewensomstandighede in ons gesinne, families en ons werk.

“Wanneer gaan julle besluit vir wie julle wil dien? As die Here die ware God is, volg Hom.” – 1 Konings 18:21

Ons keer terug van ’n Geesvervulde pelgrimstog om Jesus kragdadig deur Sy Gees uit te leef te midde van uitdagende omstandighede.

Vir meer berigte soos hierdie, kry die Desember-uitgawe van JUIG! of besoek JUIG!