104fm Paasgebede deur Elize Parker

April 12, 2020

Skep Nuwe

Die meisie by die deur

Jesus, laat my altyd soos die skugter meisie by die deur
van die hoofpriestershuis wees
wat skaam wou weet of Petrus u volgeling was.
Sou sy dalk meer van U wou weet om U te kon volg?
O, ek ken haar ondersoekende hart, Jesus!
Ek hunker self voortdurend om meer van U te weet.
Kan mens óóit genoeg van U weet?
Die nag was reeds amper verby,
U egter nog in die beskuldigdebank
toe Petrus sy kans verspeel en U verraai het.
Die meisie by die deur se onuitgesproke vraag
is ons almal se middernagkreet: Kén jy Jesus?
U weet dat ek U beter as myself wil leer ken
sodat ek met ’n stil vertroue oor U kan getuig.
Neem my, Heer, na waar u voete geloop het.
Sien my asseblief raak
asof ek ’n meisie by u hemeldeur is.
Ek bid u genade af vir almal
met ’n diep verlange om U te ken.

Amen.