104fm Paasgebede deur Elize Parker
April 10, 2020
Van ver kon U seker al u lieflingstad sien, Jesus,
sekerlik ’n onvergeetlike gesig vanaf die donkie-rug
terwyl U oor ’n brug en oor steil, klipperige paadjies
bergaf verby dorpies vol vyeboorde gery het.
Met u intog het sovele gekom om U te verwelkom.
’n Ere-laning van onderdane vir die Koning
met vlae wat swaai, tamboeryne wat opklink.
Met ’n oorvloed palmtakke is U oorwinnend toegewaai.
Met groen palmtakkies en klere is u pad feestelik toegegooi.
U kom toe die eer, U kom toe die lof.
Tog was daar dié wat U dalk nie herken het
as die waarmaker van Sagaria se profesie nie
en dalk het hulle weggedraai.
Skep in my vandag ’n gees van aanbidding
en herkenning dat my voete na u oorwinningspad draai.
Help my om U met my volle menswees lief te hê.
Ek prys U vir u barmhartigheid en almag.
Ek aanbid U vir u koestering en geborgenheid.
U is die Koning op wie ek wag.
U kruisliefde verander my elke dag.
Amen.